top of page

Hoe Jesus ‘n lewe meet


Hoeveel is ‘n lewe werd? Dis in wese die vraag waarmee die prokureur, Kenneth Feinberg, net na die 911 gebeurtenis moes worstel. In die fliek Worth (2020), word vertel hoe Feinberg na 911 verantwoordelik vir ‘n steunfonds vir die agtergeblewenes van die slagoffers van die terroriste-aanval was. Hy moes ‘n vergoedingsplan opstel om te bepaal hoeveel die regering aan slagoffers se agtergeblewenes moes uitbetaal. Hy kom toe vorendag met die formule van compensation according to economic value lost. Dit beteken die uitbetalingsbedrae sou van die ekonomiese waarde van elke afgestorwene afhang.


Dit klink dalk vreeslik, maar Feinberg, alhoewel hy uiters klinies en koud voorgekom het, het werklik goed bedoel. Hy wou die agtergeblewe mense help. Hy’t egter net een groot fout gemaak. Ons kan mekaar nie aan geldwaarde meet nie.


...economic value lost.


Ongelukkig meet ons vandag nog mense so. Ons heg meer waarde aan die opinies van ‘n “suksesvolle” sakeman, as die standpunt van ‘n eenvoudiger persoon. Wanneer ‘n finansieel invloedryke persoon sy stem verhef, dan stem almal eenvoudig in, al stem baie nie saam nie. In gemeentes word leiersposisies en mag dikwels aan mense gegee bloot omdat hulle geldelike invloed het. Mense met rassistiese neigings het al teenoor my na ander bevolkingsgroepe in Afrika verwys  en uit die hoogte beweer dat hierdie mense nooit inisiatief geneem het om die land te ontgin, of om ekonomiese waarde te skep nie. Ons meet mekaar ekonomies, aan geldelike waarde. Ons hanteer mekaar soos verbruikersitems.


Hierdie gewoonte is uit die hel gebore.


In teenstelling hiermee hef Jesus kinders op, juis diegene, wat geen ekonomiese waarde in die antieke wêreld gehad het nie. Hy hef slawe op, reik uit na die armes. Hoekom?


Want Jesus meet mense anders.


Vir God is mense waardevol, want Hy sien ons as relasioneel. Ons is verhoudingswesens. Dit beteken dat enige iemand op hierdie planeet in ‘n verhouding met God kan staan en dat God in ‘n verhouding met alle mense wil wees. Dis waarom God mense geskep het. Hy wil ons liefhê. Ons het vir Hom waarde. Trouens, mense is vir God van onskatbare waarde. Dis nie omdat mense goed of oulik is nie - dis omdat God goed en liefdevol is.


Toe God ons kom loskoop het, het Hy nie geld betaal nie. Die prys was Sy Seun se lewe. Economic value lostmoet vervang word met Divine price paid.


Dis die duurste wat nog ooit vir iemand betaal is.

Opmerkingen


bottom of page