top of page

Jesus is Koning


Lees Efesiërs 1:22

 

Die vervulling met die Heilige Gees is ’n dinamiese dag tot dag proses. Ons moet ons lewens elke dag aktief en bewustelik in Sy hande plaas. Die Heilige Gees is immers met ’n lewenslange bouprogram in ons lewe besig, wat ons gedurige samewerking vra. In hierdie proses gebruik Hy net die allerbeste bougereedskap. Hy werk veral deur die Bybel om God se wil aan ons bekend te maak. Die Heilige Gees omskep in hierdie proses ons gebede in wonderlike geleenthede om God te verheerlik, asook om voorbidding te doen en om groot dinge van Hom te verwag. Paulus se aangrypende gebed hier in Efesiërs 1 is juis ‘n sprekende voorbeeld van die Gees se kragtige werk as hemelse Voorbidder.

 

Die Heilige Gees verander ons in lewende getuies vir Christus. Hy lei ons hoe langer hoe meer om ons lewe onvoorwaardelik in God se diens te stel en Hy maak ons oorwinnaars saam met Christus in die woeste stryd teen die Bose. Maar die belangrikste van alles is dat Hy Jesus elke dag Koning in ons lewe maak. Ja, Jesus is koning, maar die Gees hou elke dag in ons elkeen, wat aan Hom vrye teuels gee, opnuut ‘n kroningseremonie tot Sy eer. Hy verklaar Jesus as die Alleenheerser. Hy rig alle soekligte op Jesus om Hom te eer. Neem aktief deel aan hierdie daaglikse kroningseremonie, groot asseblief.

 

Gebed:

Heer Jesus, ek buig voor U as koning! Amen.

Comments


bottom of page