top of page

Jesus maak my inmengerig … op die regte manier!


'n Klomp rowers wou een nag 'n klooster beroof. Hulle het verneem dat die plaaslike priester gereeld in sy preke na al die kerk se skatte verwys het. Nou wou hulle dit kom steel. Die priester het dadelik ingewillig en die rowers na 'n vertrek onder die kerkgebou geneem. Toe hulle daar instap, sien hulle ’n klomp arm mense, wat die aand daar oorgeslaap het. "Hier is die kerk se ware skatte," sê die priester toe vir die verbaasde rowers. "Om hulle te versorg, is om Christus self te dien," het hy bygevoeg. Natuurlik het die rowers nie belanggestel in hierdie rykdom nie. Ongelukkig stel baie Christene vandag ook nie in hierdie rykdom belang nie.


Teveel kere kyk ons die ware skatte van die Here mis. Sy menslike skatte is dikwels in stukkende houersverpak. Armes, kreupeles, verlamdes, blindes tel onder Jesus se gunsteling vriende. So vertel Hyself in Lukas 14. Daarom moedig Hy ons hier aan om ons volgende feesmaal vir hulle te hou. Dit sal God se hart so bly maak, wanneer ons mense bederf wat niks het om ons mee te vergoed nie, dat Hy dit tot in ewigheid sal onthou.


Die meeste dade van liefde kos jou nie sakke geld nie, maar dit kos jou altyd iets in terme van jou hart, jou betrokkenheid en jou tyd. As navolger van Christus het jy nie elke dag die "luukse", wat Jack Nicholson se karakter in die film The Bucket List gehad het nie. Hy sê by geleentheid vir Morgan Freedom: "Just because I told you my story, doesn't mean I invited you to be a part of it." Jy en ek het egter nie hierdie keuse nie. Ons moet betrokke raak op ’n paar plekke en in ’n paar lewens.


Jy kan nie elke dag kies waar, wanneer en hoe jy ander mense wil dien of liefhê nie. Tog moet jy altyd bereid wees om jou vol program te onderbreek om langs iemand, wat jou hulp nodig het, te stop. Jy moet leer hoe om jou hande vol met ander se laste te laai. Jy kan nie alles vir almal wees nie. Daar's net teveel mense in nood rondom jou. Nogtans kan jy nie bekostig om nogmaals saam met al die vromes aan die ander kant van die pad verby te stap, terwyl Jesus iemand spesifiek op jou radarskerm geplaas het nie. Op elke plek, waar jou eie skaduwee vandag val, moet jy ‘n verskil wees van een in Sy Naam. Hier moet jy hooploosheid met hoop en liefde vervang.

Comments


bottom of page