top of page

Jesus-volgelinge moet poëties raak oor die dood


Die dood is ‘n realiteit, wat nie een van ons kan ontsnap nie. Die statistiek sê steeds dat een uit elke een persoon sterf! Dis vir ons almal bestem. Almal reageer verskillend op die idee van die dood en elkeen rou anders, wanneer ‘n naaste aan die dood afgestaan word. Ons almal het ook ‘n mate van vrees oor die dood. Dis sekerlik heel menslik.


In hierdie opsig was die Covid-pandemie nie ‘n aangename herinnering nie. Die meeste van ons het mense aan die dood afgestaan. Ons almal het gerou, sommige meer as ander. Die geloof van sommige Jesus-volgelinge was werklik vir my ‘n groot inspirasie tydens begrafnisprosesse. So het die realiteit en krag van die evangelie van Jesus werklik tot baie gespreek. Wat my egter in hierdie tyd nogal ontstel het, was hoe verskriklik vreesagtig sommige kerkmense aangaande die dood gereageer het. Sommige het gerou asof alles verby was, die dood finaal was en asof hulle nooit weer enige sin en betekenis in die lewe sou kon vind nie.


Sonder om dus enige oordele links en regs te fel, het ek begin wonder of ons nie verkeerd oor die dood praat nie. Soos die Nuwe Testament moet ons weer praat asof die dood nie finaal is nie, asof die dood gearresteer is. Ja, die dood sit nog daar in die tronksel, gluur ons aan en maak ons bang, maar sy mag is weg. Hy loop nie meer vry in die strate om almal te terroriseer nie. Ons moet mekaar boonop herinner aan die heerlikheid van ‘n lewe saam met God, wat vir ons daarna wag.


Ek kon nie help om te dink aan hoe poëties JRR Tolkien, die bekende Christen letterkundige, oor die lewe en ook oor die hoop na die dood gepraat het nie. In sy Lord of the Rings is daar ‘n toneel waar Gandalf, die groot geestelike wysgeer van hierdie fantasieverhaal, en Pippen, een van die ander karakters, saam gesit en wag het op die dood, wat hulle bedreig.


Pippen sê vir hom: I didn’t think it would end this way.

Gandalf: End? The journey doesn’t end here. Death is just another path, one that we all must take. The grey rain curtain of this world rolls back and all turns to silver glass ... and then you see it.

Pippen: What? Gandalf, see what?

Gandalf: White shores and beyond; a far green country under a swift sunrise.

Pippen: That doesn’t sound so bad.


Die manier waarop Gandalf vir Pippen die dood en die lewe daarna geskets het, het die verskriklikheid van die dood op die horison laat vervaag en die skoonheid van God en die lewe hierna op die voorgrond geplaas. Dit het Pippen, te midde van huidige lyding, oorlog en onsekerheid, opnuut met hoop, krag en visie op ‘n toekoms, wat vir hom wag, gevul.


Johannes doen dieselfde, wanneer hy die gelowiges in hulle swaarkry probeer bemoedig. Poëties en kleurryk praat hy in Openbaring 21-22 van die Boom van lewe, die rivier met helder skoon water, die uitnodiging aan elkeen, wat dors het, om van hierdie hemelse water te kom drink, Hy verwys na die bome, wat die hele jaar lank vrugte dra, die afwesigheid van chaosmagte, wat alles vernietig, die kosbare stad met fondamente en poorte van edelgesteentes, die goue strate, die afwesigheid van trane en dood, wat uiteindelik tereggestel en vernietig is, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe Aarde. Dis alles simboliese en poëtiese taal, wat getuig van ‘n lewe saam met God.


Dis God, wat van die Nuwe Aarde ‘n woonplek vir die kerk maak, wat soos ‘n bruid vir haar bruidegom versier is. Die hemel is ‘n verhouding, die volvoering van ‘n huwelik, die voltrekking van ‘n diep en ewige liefdesverbintenis tussen God en ons.


Teen hierdie Goddelike realiteit vervaag die dood soos ‘n vergete nagmerrie, wat agter ons is en ons nie meer kan treiter nie ... totdat dit later heeltemal verdwyn van die horison en ons dit nie meer kan sien nie. Kom ons bemoedig mekaar dan met woorde van geloof, hoop, liefde, opstanding en lewe. Kom ons sê vir mekaar:


The journey doesn’t end here. Death is just another path, one that we all must take. The grey rain curtain of this world rolls back and all turns to silver glass ... and then you see it:

White shores and beyond; a far green country under a swift sunrise.

Comments


bottom of page