top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Jy hoef nie altyd in te pas nie


'n Amerikaanse vriend vertel my een keer dat ‘n troeteldierwinkel gedurende sy kinderdae nog alligators verkoop het. Hierdie reptiele is in bokse verpak, saam met 'n instruksie om hulle nie hieruit te verwyder nie. Die rede was nie soseer om mense teen hul skerp tande te beskerm nie, maar eerder om te keer dat die alligators nie groter groei as die bokse, waarin hulle hulleself bevind het nie. Dieselfde gebeur soms ook met ons. Ons word in bokse deur die res van die samelewing verpak, sodat ons nie groter groei nie. Ons kreatiwiteit, ons denke en ons selfstandigheid word in geslote boksies ingedwing, sodat ons net soos die res sal dink, praat en optree.


Dit is diegene wat die moed het om God se roeping vir hulle lewe te aanvaar wat uit sulke bokse groei om hul Godgegewe doel in die lewe te bereik. Te veel mense aanvaar hulle selfopgelegde beperkings gedwee. Hulle leef slaafs volgens die res se stereotipes en verwagtinge. God vra meer as dit van ons. Hy roep ons tot 'n nuwe lewe anderkant mensgemaakte gietvorms. Nee, Hy vra nie van ons om mense rondom ons te skok deur rebelse optrede nie. Dit is onvolwasse. Om op die regte maniere buitekant mensgemaakte bokse te leef, is om daardie talente, wat God in ons verpak het, op unieke maniere tot Sy eer uit te leef. Doen dit en wees vry!

Comments


bottom of page