top of page
Writer's pictureHelena Smith

Jy is nie in ‘n langafstandverhouding met God nie


Langafstandverhoudings is ‘n realiteit in die moderne wêreld.  Deesdae is aanlyn dating apps ‘n modegier. Mense ontmoet mekaar aanlyn en besluit dan of hulle verder wil gesels. In sommige gevalle is mense, wat mekaar aanlyn ontmoet het, later met mekaar getroud en vertel hoe gelukkig hulle nou is. Oral oor die wêreld is daar ook mense, wat in pendelhuwelike is. Sommige mense se huweliksmaats werk oorsee. Die feit is egter dat ‘n langafstandverhouding harde werk is en ‘n mens doelgerig daaraan moet werk om dit te laat slaag.  

 

Vandag het ek vir jou goeie nuus! Jou verhouding met God is nie ‘n langafstandverhouding nie. Hy is binne jou en by jou. Sy nommer is nooit beset nie en Hy is net ‘n gebed of noodkreet ver. ‘n Mens moet doelgerig aan enige verhouding werk.  Of dit nou met jou eggenoot, kinders, ouers, kollegas of vriende is. As jy nie gereeld met hulle kommunikeer nie, sal jou verhouding met hulle agteruitgaan. Net so moet jy ook doelgerig aan jou verhouding met God werk. In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

 

As jy doelgerig elke dag tyd saam met God spandeer, sal jy Hom beter leer ken. Indien jy gereeld Bybel lees, leer jy God se karakter ken. Jy leer om God se stem te hoor. Om in gebed met God te praat, maak jou hart rustig en jy weet dat jy dit, waaroor jy gebid het, nou rustig in God se hande kan laat. Ongelukkig is dit ook so dat as jy nie gereeld tyd saam met God spandeer nie, jou verhouding met Hom ook agteruitgaan.

 

Dit is dus belangrik om in die ritme te kom om elke dag stiltetyd te hou. Indien jy ‘n besige lewenstyl het, maak tyd daarvoor. Bid, lees Bybel en wees vir ‘n rukkie stil.  Herkou aan die gedeelte wat jy gelees het. Wat wil God daardeur vir jou sê? As jy voel jy het die Here se stem gehoor, skryf neer wat jy gehoor het. As jy van geestelike musiek hou, kan jy gedurende hierdie tyd ook daarna luister. Aan die begin mag daardie daaglikse afspraak vir jou soos werk voel, maar later sien jy reikhalsend daarna uit!   Wat wonderlik is, is dat jy op enige tyd en plek met God kan praat. Ek skakel soms my motorradio af om te bid of gesels met God as ek saans in my bed lê.

 

Dink aan die Een met wie jy ‘n verhouding het: Hy is jou Vader, wat jou baie liefhet. Hy sien uit daarna om ‘n verhouding met jou te hê en Hy kan nie wag dat jy daagliks met Hom gesels nie.      

Comments


bottom of page