top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Kies betyds 1 Korintiërs 13 se pad


Daar’s altyd meer vreemdelinge as bekendes rondom jou. Op die pad, in winkelsentrums, by sportgeleenthede, in die kerk … daar is meer onbekendes as bekendes! Hulle ken jou nie. Jy ken hulle ook nie. Julle weet nie wat in mekaar se harte leef nie. Of wat mekaar se motiewe of planne is nie. Daarom is daar nie aldag te veel vertroue in die lug tussen bekendes en onbekendes nie.


Vreemde mense gee jou nie sommer die voordeel van die twyfel nie, of jy vir hulle nie. Ander mense word gou-gou deel van “hulle.” Of van “daardie mense.” Ligloop vir daardie “vreemdelingafstand.” Kies altyd 1 Korintiërs 13 se pad. Hierdie aangrypende hoofstuk oor die liefde sê jy glo en hoop die beste van ander mense. Nee, dit vra nie dat jy hand om die lyf moet loop met dwase en skurke nie. 1 Korintiërs 13 vra egter dat jy as ’n basiese reël enige nuwe situasie en vreemde mense met openheid en wysheid moet benader. Jy is nie byvoorbaatagterdogtig en wantrouig nie. Jy is belangstellend. Jy kies om hoflik en bedagsaam te wees, soos wat God vra. As jy só leef, verander party vreemdelinge spoedig in jou vriende.

Comments


bottom of page