top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Klap hande vir ander


Hoekom is dit vir sommiges so moeilik om saam met ander, wat ’n prys of ’n toekenning kry, bly te wees? Of om ’n stukkie erkenning te gee aan  mense, wat een of ander prestasie behaal het? Of om dankbaar te wees saam met iemand, wat dalk ’n nuwe motor, of nuwe meubels, of ’n nuwe foon of rekenaar bekom het? In Romeine 12 leer Paulus ons juis om bly te wees saam met diegene, wat bly is. Uiteraard kan nie een van ons altyd pryse kry nie. Of iets nuut bekostig nie. Maar ons mag nooit daaroor skinder as sulke mooi dinge wel met ons vriende, kollegas, of familie gebeur nie. Of agteraf skimp dat dit darem lekker is om so ryk soos hulle te wees nie. Of dat hulle seker maar die regte mense ken wat sorg dat hulle sekere pryse kry nie.


Kom ons doen wat ’n anonieme skrywer iewers neergepen het: “Until it’s my turn, I will keep clapping for others.” Om gedurig kritiek te hê op ander se deurbrake, prestasies en voorspoed, is ’n aanduiding dat daardie groenoogmonster, genaamd jaloesie, besig is om te wen. Weier asseblief dat dit jou hart beset. Wees altyd bly wanneer ander mense met hulle Godgegewe talente woeker. Gebruik ook jou eie talente na die beste van jou vermoë, al word jy nooit raakgesien of beloon daarvoor nie. Dit is die roete van Christus.

Comments


bottom of page