top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Klein is die regte grootte in die koninkryk van God


Ons beskryf mense graag in terme van klein of groot. Dit kan nie anders nie, want selfs die klerewinkels doen dit. Ons koop immers ons klere in groottes, wat aangedui word met enigiets vanaf S, L, XL, XXL en verder.


Groot is belangrik, want dit word gewoonlik in verband met krag gebring. Groter is sterker. Groter is meer. Groter wen gewoonlik. Nogtans is Jesus op rekord in Matteus 18 dat klein nou die nuwe sakpasgrootte in die koninkryk van God is. Hy vertel hier in die eerste vier verse vir Sy dissipels dat as hulle (en ons) nie leer om agteruit te groei en weer kinders te word nie, dan sal nie een van ons ooit die binnekant van God se koninkryk sien nie. Die enigste sakpasgrootte in die koninkryk van God is klein. Hier gebeur groei agteruit. Om deel te wees van God se nuwe wêreld, gebeur groei van groot na klein, van belangrik na onbelangrik, van eerste na laaste, van voor na agter. Alles gebeur dus agterstevoor. Dit is regtig moeilik, want ons almal wil groot,volwasse, sterk, XXL en wat nog alles wees. Maar Jesus se nuwe grootte is klein. Dan is ons groot genoeg vir God. Dan kan Hy ons regtig gebruik, wanneer ons klein is, omdat ons dan eers weet hoe om Hom kinderlik en opreg te vertrou.

Comments


bottom of page