top of page

“Koel”, die nuwe opiaat


Lees Galasiërs 5:16b

 

“Koel” is die nuwe opiaat van ons tyd. Om in te wees, tel alles. Sukses word blatant deur die advertensiewese met die jongste modes, elektroniese speelgoed en die regte handelsmerke verbind. Boonop word dit meedoënloos dag en nag in ons kele afgedruk. Met meer as 4,000 advertensies per week, waaraan die media ons blootstel, is dit geen wonder nie dat jongmense se identiteit vandag aan die spreekwoordelike draadjie hang. Daarom verbaas ‘n opmerking in die New York Times se Style Magazine (27 Augustus 2006) my nie: “Celebrity stylists have become our latest gurus.”

 

Met ‘n jonger generasie, wat net in die VSA met ‘n koopkrag van $450 biljoen dollar spog, is dit nie vreemd dat bemarking grootliks op hulle gefokus word nie. Daarom word die vraag gestel of ons as ouers nog die moed het om kinders met gesonde waardes groot te maak, soos liefde vir die Here en respek vir ander? Of is ons ook bang vir “uit” wees? Het Christen-jongmense en ouer mense enigsins nog die moed om ‘n leefstyl, wat in pas met die Gees is, na te streef? Ons kan nie kapituleer voor die fyn bemarkingstrategieë van die sondige wêreld, wat ons na ‘n vlak van selfsug en sonde aftrek nie. Dit is die dood in die pot. Kom ons kies die Gees se pad van vryheid. Kom ons kies vir Sy leefstyl van hoop, geluk en hemelse vrede.

 

Gebed:

Heilge Gees, bewaar my van die opiate van ons dag. Amen.

Comments


bottom of page