top of page

Konflik, en jy’s in die middel


Lees Galasiërs 5:17a

 

Kompromie is soms ‘n goeie ding. Wanneer twee vegtende faksies in loopgrawe teenoor mekaar stelling ingeneem het, moet daar iewers vrede gemaak word. Dan vra dit toegewings en kompromieë. Maar ander kere weer is kompromieë sleg. Waar? Op die geloofsfront. Hier is ‘n kompromie gelyk aan om toe te gee aan die opposisie se spelpatroon. Soos wat ons teen hierdie tyd weet, is sonde en die Gees nie vriende van mekaar nie.

Paulus maak geen geheim daarvan nie dat ons moet kies of ons die Gees se leefstyl of ons eie sondige aard se leefstyl gaan navolg. Hier is geen kompromie moontlik nie. Jy en ek staan in die middel tussen die Heilige Gees en ons sondige aard ... en ons moet kies. Ons moet besluit of ons die Gees se roete na die Lewe toe gaan aandurf en of ons die vlees se roete na die dood toe gaan kies. Hierdie keuse is ‘n daaglikse keuse. Elke oggend moet ons van vooraf en opnuut ons keuses uitoefen. Ons begin daagliks oor en voor. Maar ons moet ook elke dag besef dat geen kompromie tussen dit, wat God se Gees van ons vra en dit, wat die wêreld en ons sondige aard van ons vra, enigsins moontlik is nie. Dis of God se pad volledig en eksklusief, of nie! Wat is jou keuse vandag?

 

Gebed:

Here, ek kies vir U in Jesus se groot naam. Amen.

Comentários


bottom of page