top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Kry dit in jou hart


Lees Efesiërs 6:17

 

Die kerknavorser, George Barna, bevind dat minder as 10% van gelowiges die Bybel as die vernaamste bron vir hulle eie geestelike groei beskou. Hoe is dit moontlik? Ek weet nie, behalwe dat ek weet dat te veel gelowiges toelaat dat die Bybel eerder op boekrakke rondstaan as dat dit in ons harte ‘n plek kry. Ons praat dikwels meer oor die gesag van die Bybel, of oor daardie mense, wat die Bybel verdraai, as wat ons die Bybel self onder oë kry of dit behoorlik bestudeer. En tog is die Bybel die aanvalswapen van die Gees. Hiersonder is ons aan die vyand uitgelewer. Dan wag neerlae en bloedneuse gedurig op ons.

 

Hoe kry ons die Bybel in ons hart? Deur ons oë, dis hoe! Daar’s net een manier om die Bybel te leer ken. Lees dit! Bestudeer dit. Oordink dit. Bepeins dit. Wat help dit jy het vyf Bybelvertalings op jou boekrak en twintig Bybels op een of ander nuwe rekenaarprogram, maar jy kan nie eens jou eie weg op die heel eenvoudigste Bybelroetes vind nie? Wat help dit die Bybel is netjies in jou hande Sondae as jy kerk toe gaan, maar dis nie Maandae in jou hart en kop as jy gaan werk nie? Dan het jy mos nie ‘n wapen om mee te veg nie! Gee aan die Bybel ‘n ereplek in jou lewe. Eet dit soos Esegiël van ouds. Leef daaruit en kyk wat gebeur!

 

Gebed:

Laat U Woord lig maak op my eie leefpad vandag, God. Amen.

Commentaires


bottom of page