top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Leef elke dag heilig


Lees 1 Tessalonisense 4:3-5


Ek het al so baie gehoor mense vra: “Wat is God se wil vir my lewe?” Die vraag het ‘n paar antwoorde in die Bybel. Een van die antwoorde vind ons in ons teksgedeelte. “Dit is die wil van God dat julle Heilig moet lewe …” en wat daarop volg.


Dit voel soms vir my of Christene dubbele lewens lei. By die kerk het ek een leefstyl en gesig, maar tussen my vriende en langs die braaivleisvure, viswaters of kuiers saam met ‘n groep vriendinne is daar ‘n ander ekke. Dit is nogals “scary”. Gewoonlik sal ons in die normale omgang van die lewe sê so ‘n persoon is skynheilig.


Met heilig lewe bedoel Paulus dat ons teenoor ons huweliksmaats heilig moet lewe. Behandel jou huweliksmaat met respek. Paulus sê ons mag nie soos heidene, wat deur hartstog en begeerte aangedryf word, optree nie.


Wat beteken hierdie teks? Moenie skelm rondloer as jou maat nie kyk nie. Jou huwelik moet heilig wees. Daar is hoë mure om jou huwelik gebou. Nee, dis nie ‘n tronk nie! Niemand kan oor die muur loer of skelm inkyk nie. Jou huwelik is ‘n kasteel met die mees gesofistikeerde veiligheidstelsels en alarms. As ‘n persoon ongevraagd jou aandag probeer trek, gaan al daardie alarms gelyk af en waarsku jou oor die gevaar. Die Heilige Gees sal jou self waarsku dat jy op daardie oomblik versigtig moet optree en liewer moet wegstap. Jou huwelik is baie meer werd as ‘n vriendskap of ‘n ongenooide kompliment van ‘n kollega. Jou nekhare moet onmiddellik regop staan in so ‘n situasie.


Ons huwelik moet die veiligste plek wees. Hier deel jy alles en lag heerlik oor persoonlike grappies. Julle gee mekaar raad en bespreek saam probleme. Komplimente is hier veilig, want dit is die plek waar dit gegee moet word. Tuis en by mekaar is jou vrou jou koningin en jy haar koning. Binne die verhouding behandel ons mekaar eerbaar, met respek en liefde. As ek kwaad is vir van my man, skinder ek nie by die werk of by vriendinne van hom nie. Ons sorteer dit tuis in ons privaatheid uit en dan is dit afgehandel. Ou koeie loop nie rond in die huis en eet die vrede op nie.


‘n Heilige huwelik beteken ek kyk nie skelm na pornografie op die internet nie. Ek het nie ‘n tweede Facebook-profiel en skelm Messenger-boodskappe, wat deurkom nie. Ek eer my huweliksmaat. Ek wil altyd net die beste vir hom of haar wees.


Om heilig te leef, beteken ek is altyd dieselfde. Dit is integriteit te alle tye. Ek lei nie twee verskillende lewens nie. Ek is oral en altyd dieselfde!


Ek wil voorspel dat as jy só optree teenoor jou maat, gaan jou huwelik blom en die wonderlikste, veiligste plek wees. Jy sal nie kan wag om tuis te kom of te wees nie. Ja, daar sal soms tye wees waar julle verskil van mekaar, maar daardie tye gaan jy  anders hanteer en dit vinnig uitsorteer.


Eer mekaar met liefde en jou huwelik gaan jou verras, betower en ‘n veilige plek van afwagting wees.


Kyk weer met nuwe oë en verwondering na jou maat en leef in ‘n heilige huwelik met hemelse waardes, wat jou weer opgewonde maak.

Kommentare


bottom of page