top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Leef In die Gees


Lees Galasiërs 5:16a

 

Nog een van die groot hoofstukke oor die Gees in die Bybel, saam met Johannes 14 en 16, Handelinge 2, Romeine 8 en Efesiërs 5, is ongetwyfeld Galasiërs 5. Hier in vers 16 - 26 verduidelik Paulus op ‘n baie praktiese manier hoe ‘n lewe onder bestuur van die Heilige Gees daar uitsien. Hy kontrasteer dit met ‘n leefstyl, wat vanuit ‘n mens se sondige geaardheid aangevuur word en wat gedurig aanleiding tot destruktiewe gedrag gee. Wanneer die Gees die Stuurman is, dan vaar ons lewensbootjie in ‘n ander rigting. Dan is ‘n sondige leefwyse van begin tot einde die verloorder.

 

Geloof is nie ‘n kompartementele aangeleentheid, wat net vir ons Sondag-gedeelte van die week gereserveer is nie. Nee, dis ‘n leefstyl, soos wat Paulus helder en duidelik hier sê. Meer korrek, dis ‘n Geesgedrewe leefstyl. Wanneer die Gees dag vir dag toegelaat word om vrye teuels te neem, dan verander ons manier van leef. Dan is nuwe dinge, andersoortige verhoudings, interaksies en saamwees met mense skielik belangrik. Dan tel die dinge, wat vroeër saakgemaak het, of selfs van oorheersende belang in ons lewe was, skielik nie meer soveel nie. Dan maak dit glad nie meer saak nie. ‘n Nuwe lewe is regtig gelyk aan ‘n totaal nuwe leefstyl - dis die eintlike punt van die Gees se werk. Hy maak ons daaglikse lewe vars, nuut en anders. Hy bring ‘n opwindende nuwe ritme in ons omwandelinge met God, onsself en ander mense.

 

Gebed:

Laat nuwe lewe ook in my lewe ‘n leefstyl wees, Gees van God. Amen.

Comentarios


bottom of page