top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Ligloop vir selfsugtige kerkwees



Kerkwees gaan nie oor myself nie, nie eens amper nie. Dit gaan oor Christus en ander. Om my wil op ander mense af te dwing om soos ek te dink of presies soos ek die Here te dien, is om God se genadepad te versteur. Dis om geestelike geraas te maak. Terloops, ‘n mens noem dit selfsug!


Ek sien te veel kerklikes rondom my, wat nie te veel vir ander se gevoelens omgee nie. Hulle wil net hulle eie opinies ten alle koste laat seëvier. Hulle sienings van God se werk is al wat tel. Of jy dink soos hulle, of jy’s uit. Of jy stem met hulle saam en laat hulle goed voel oor hulle sienings, of jy maak dit nie. Wel, dis ‘n fout. Dis wanordelik, al lyk dit doodnormaal. Onordelikheid is nie noodwendig ‘n luidkeelse geraas nie - dis soms ook die tirannie van ‘n paar indiwidue, wat almal in die kerk wil forseer om by hulle sienings in te val. Die Gees het juis in ons lewens ingekom om sulke selfsug by die agterdeur uit te gooi. Hy maak ons vry om mekaar lief te hê en om nuwe verhoudings met ander mense te bou. God se teenwoordigheid is warm, oop, onvoorspelbaar en lewensveranderend. Dit is verhoudinggerig. Dit gaan daaroor dat ander mense meer toegewyde Christene word, omdat hulle met my paaie gekruis het en nie oor myself met my “groot” geestelike bydraes by elke samekoms nie.


Gebed:

Here, keer dat my geloof net oor myself gaan. Amen.

Comments


bottom of page