top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Ligloop vir verslawings


Lees Galasiërs 5:19

 

Mmm, dis ou bekende dinge dié, waarna Paulus hier in vers 19 verwys. Paulus gee naamlik ‘n paar name aan ons sondige aard, wat vir die meeste nie vreemde verskynsels is nie. Seksuele losbandigheid is ook steeds aan die orde van die dag in ons tyd. Kyk maar net die slegte gevolge wat dit op baie huwelike het! Of wat internetpornografie aan baie mense doen. Dis skrikwekkend, om die minste te sê. Statistieke wys dat pornografiese verkeer op die www.wêreld steeds die hoogste bly. Afloersondes is die gewildste. Kan jy dit glo?

 

‘n Sat leefstyl, waar seksualiteit verslawend geword het en waar afloerdery en besoeke aan sondige plekke aan die orde van die dag is, hou mense se koppe gevange. Dit lewer hulle uit aan destruktiewe denkpatrone, wat aanhoudend met net nog meer siek dinge gevoed moet word. Seksuele immoraliteit is net so verslawend as sekere dwelms! En hierdie dinge gebeur reg onder ons neuse. In vele huise en in ons skole is daar wie weet hoeveel geheime mense, wat aan ongebreidelde seksuele leefstyle verslaaf is. Daarom waarsku Paulus so sterk teen die gevare van ‘n leefstyl, wat nie deur die Gees se vrymakende krag ingeperk word nie. Daarom moet ons elkeen elke dag van voor af kies om nie uitgelewer te wees aan ons sondige begeertes en verslawende gewoontes of gedrag nie. Bid dat God jou vandag sal bewaar!


Gebed:

Keer dat verslawende sondes in my lewe die botoon voer, Gees van God! Amen.

Comentarios


bottom of page