top of page

Los die regte probleem op


‘n Skeptiese vriend vra nou die dag vir my waarom ons Christene so aanhou met ons praatjies oor Jesus, sondevergifnis, evangelisasie en geestelike nonsens en nie eerder dinge doen wat in hierdie lewe, hier en nou, ‘n verskil kan maak nie. Waarom raak ons nie meer betrokke by die politiek, welsynswerk, die verligting van armoede en gemeenskapswerk, in plaas daarvan om mense te probeer oortuig dat Jesus die enigste Weg is nie?


In die eerste plek het ek hom gelyk gegee dat hy ten minste vyftig persent reg is. Ons moet inderdaad by al hierdie genoemde behoeftige areas betrokke wees. Dis deel van die evangelie. Ek het hom egter ook daarop gewys dat baie gemeentes inderdaad geweldig betrokke is by materiële noodverligting en soortgelyke dinge. Ook in ons eie gemeente word die grootste deel van ons begroting aan noodverligting na buite gewy. Trouens, sê ek vir hom, die een ding wat my begin besorg maak, is dat baie gemeentes nou slegs aan hierdie dinge begin aandag gee en die verkondiging van die evangelie afskeep.


Toe kom ons by my tweede punt. Jesus het juis nie slegs gekom om nou alreeds alle materiële nood te verlig nie, anders sou Hy die Romeinse juk in Judea onmiddellik afgegooi het en alle euwel en onderdrukking verwyder het. Jesus het ‘n baie dieper probleem kom uitsorteer. Ek sê toe vir hom dat, selfs al kry Suid-Afrika dit reg om van môre af die ekonomie aan die groei te kry, die konflik in die kabinet en tussen politieke partye uit te sorteer, al die armes se nood te verlig, vrouens te emansipeer, Eskom aan die werk te kry, misdaad onder beheer te kry, ons nog nie die GROOT probleem opgelos het nie. Trouens, die oorsaak van al bogenoemde probleme sal nog steeds ‘n bedreiging wees, naamlik die selfsug van sonde in elke individu se hart. Al sorteer ons dus al die ander goed Maandag uit, Dinsdag sal presies dieselfde probleme weer kop uitsteek.


Dís waarom ons evangeliseer.


Die Goeie Nuus van Jesus verower mense met God se allesomvattende liefde en verander mense se harte! Dit hanteer die GROOT probleem van sonde en sien dit reg. Hierdeur vernuwe Jesus ons van binne af na buitentoe, dit laat ons uit liefde as nuwe mense leef. Dit verander ons in die soort mense, wat slawe uiteindelik sal bevry en armoede sal verlig. Daarom moet ons in ‘n land soos Suid-Afrika alle mense tot bekering en die aanvaarding van die Goeie Nuus van Jesus oproep. Maar ons moet egter die kerk ook oproep om ware dissipels te wees en vanuit ons geloof te leef en nie bloot Christelike godsdiens te beoefen nie! Vae, flou godsdiens en kerkwees en lou liefde gaan niemand help nie.

Ons verkondig Jesus, want slegs Hy kan ons red om ‘n beter toekoms, in hierdie lewe, sowel as in die volgende te beleef.

Comments


bottom of page