top of page

Luistervermoë moet ook beoordeel word


Die fliek August Rush begin met dié woorde:


“Listen. Can you hear it? The music. I can hear it everywhere. In the wind, in the air, in the light. It is all around us. All you have to do is open yourself up. All you have to do is listen.”

Die lewe is ‘n luisterding. Geestelikheid gaan oor aandag gee en luister. God openbaar Homself. Ons luister. Hy maak Homself bekend deur Sy Woord, deur Sy predikers, deur die skepping, musiek, stories wat mense vertel. En ons? Ons gee aandag en luister. August Rush handel oor ‘n seun wat so ‘n besondere manier van diep luister het dat hy musiek rondom hom kan hoor in die elemente van die natuur en selfs in die spitsverkeer en harwar van die stad. Hy hoor dinge, wat ander mense nie hoor nie. Hy beskik oor ‘n besondere luistervermoë. Luister is fundamenteel tot die lewe. In die Bybel is die belangrikheid van ‘n persoon se luistervermoë ‘n sentrale tema.


Wat egter vir my interessant is, is hoe die prioriteite deesdae in kerke omgedraai is. Dit gaan oor die dominee / pastoor se preekvermoë.  Die preek sowel as die spreker se vermoë om ‘n gemeente se aandag te hou deur die loop van die boodskap word gewoonlik geëvalueer. Leraars word gekomplimenteer, omdat hulle beskik oor ‘n goeie sin vir humor en nie so vervelig is soos sommige ander is nie. Boodskappe word gekritiseer, omdat dit droog en oninteressant is. Die spreekvermoë is wat beoordeel word.


Die Bybel kyk anders daarna. God beoordeel jou luistervermoë. Dit was juis Israel se probleem regdeur die geskiedenis. Hulle ore was toe en hulle harte hard (Jes. 6:10-12; Eseg. 12:1-2). In Jesus se gelykenis oor die saaier roep Hy juis mense op om te luister. Paulus waarsku verder dat mense vir hulleself predikers bymekaar sal maak wat hulle ore kielie en vir hulle sê net wat hulle wil hoor. Boodskappe is nie daar vir vermaakdoeleindes nie. Dis daar om oor God te praat. Boonop behoort die hart, wat op God ingestel is, so desperaat vir ‘n Woord uit die Here se mond te wees dat hulle elke woord indrink, al is die formaat waarin dit kom nie so verfrissend soos dit kan wees nie.


Maak geen fout nie - God beoordeel wel die herders van Sy mense. Herders moet getrou aan hulle roeping wees, die kudde van die Here reg lei en die evangelie korrek verkondig. Maar vir God gaan dit primêr oor die hart van die spreker en die kwaliteit van die inhoud van die Goeie Nuus, nie die spreker se oratoriese vaardigheid nie.


‘n Goeie luisteraar met ‘n oop hart kan dus altyd ‘n boodskap uit ‘n relatief vervelige boodskap kry, solank die inhoud suiwer is.


Jesus het immers gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Commenti


bottom of page