top of page

Maak ’n digitale vingerafdruk met integriteit


Jyself het ’n digitale vingerafdruk. Hou dit in stand met die nodige integriteit deur die volgende te onthou:

  • Die digitale wêreld is ’n onlosmaaklike deel van die werklikheid. Jy verteenwoordig God ewe veel hier as elders in jou lewe. Bid gedurig om die nodige digitale wysheid. Bid gereeld ook vir jou digitale vriende.

  • Moenie sosiale media oorlaai met eindelose plasings nie. Dan raak dit vermoeiend vir ander om jou te volg. Onthou, ‘n mens noem dit sosiale media vir ’n rede. Dis nie bedoel as eenrigting digitale monoloë nie. Wees oordeelkundig met dit wat jy hier plaas, veral wat jou en jou familie se prestasies betref. Sosiale media is nie spogparades nie.

  • Vermy “sweet nothing”-aanhalings, wat jyself nie vooraf deurdink het nie. Onthou, eensydige waarhede is steeds halwe waarhede, al klink dit met die eerste ooropslag mooi. Vermy ook fopnuus. Jyself is aanspreeklik, indien jy sulke “nuus” verder aangee. Sê ook taktvol vir ander mense om dit nie te doen nie.

  • Moenie baklei of stry op sosiale media nie. Verwyder moeilikheidmakers en ongeskiktes, wat sulke dinge doen. Hulle kan op hulle eie platforms op hulle eie tyd en tempo goor wees. Jy hoef nie vir hulle ’n digitale seepboks te skep nie.

  • Wees sout en lig vir die Here binne al jou digitale spasies. Weerkaats die Here se genade ook hier. Praat opbouend oor en met ander mense. Ondersteun diegene, wat deur moeilike tye gaan. Dan druk jy die regte vingerafdrukke op sosiale media af.

Comments


bottom of page