top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Maar as ...


Lees Galasiërs 5:22

 

Wat ‘n frase: “Maar as ... !” “Maar as die Gees ons beheer ...” Sjoe, watter teenstelling met die voorafgaande verse maak Paulus nie hier nie. Hoe radikaal anders lyk ‘n nuwe Geesgedrewe lewe. Dis van hoek tot kant oorlaai met nuwe maniere van leef en doen. Kyk net - daar’s skielik vrugte, wat God verheerlik en Sy hart laat oorloop van vreugde teenoor Sy kinders. Daar’s boorde vol vrugte tot voordeel van ander mense, wat honger en dors na God se goedheid.


Liefde wen eerste en ook altyd waar die Gees werksaam is. Die liefde, waarvan hier sprake is, is God se opofferende liefde, wat in ons harte en lewens ‘n ereplek het. Liefde is die belangrikste aspek van God se vrug in ons lewe. Dis onmisbaar. Reeds in 1 Korintiërs 13 het ons gesien hoe hierdie liefde lyk. Dis selfloos. Dis ook dienend, uitreikend, opbouend, ondersteunend, helpend, deernisvol. God se liefde verander ons vanaf selfsugtige, eiegeregtige wesens in liefdevolle, sagter mense, wat myl twee en drie met graagte stap. Dit veroorsaak dat ander mense se laste ons eie word, dat ons uitreik tot ver buite ons eie geriefsones na ‘n stukkende wêreld, wat hardop en soms ook stilweg skree om liefde. Dit gebeur as die Gees ons lewe beheer. Wat sê die telbord van jou eie lewe as dit by liefde kom? Wie hou die leisels elke dag?

 

Gebed:

Kom, Gees, laat liefde gedy in my lewe. Amen.

Comments


bottom of page