top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Menslike leierskap


Sekere werksomgewings kan veroorsaak dat mense hulle eie menslikheid verloor. Dit behoort eintlik vir ons mense vreemd te wees om te praat van onmenslik, of verontmensliking, want ons kry nie so iets in die diereryk nie. Niemand het al ooit gesê: Daardie dier het darem nou “ondierlik” opgetree nie. Diere tree altyd in ooreenstemming met hulle eie aard op. Hulle kan nie hulle eie dierlikheid ontsnap nie. Tog leer die Bybel, en so is die getuienis van die mensdom, dat ons mense wel ons eie menslikheid in ons optrede kan verloën. Ons praat ook asof ons menslikheid skade berokken kan word, wanneer daar onmenslik teenoor ons opgetree word. Wanneer ek met sommige mense oor hulle werksomgewings praat, dan kan ek nie glo hoe “onmenslik” sommige leiers hulle mense hanteer nie. En dan is dit somtyds Christen-leiers wat so maak.


Op sommige plekke word mense soos masjiene hanteer, wat net kan aanhou en aanhou werk, sonder enige vorm van sinvolle rus. Op ander mense word daar weer so deur hulle bestuurders geskree, asof dit geen emosionele impak op so ‘n persoon se lewenskwaliteit nie. Wanneer mense só verontmenslik word, dan begin hulle self later soos diere funksioneer deur gedurig vanuit ‘n veg-of-vlugraamwerk te reageer. Dis teenproduktief.


Daarom skryf Hermann du Plessis in sy boek oor leierskap dat baie werksomgewings weer “hervermenslik” moet word. Dit is die taak van leiers. Na die ontwikkeling van die stoomenjin in die laat 1700’s en ook die ontwikkeling van die fabriekstelsel, loop baie leiers nog steeds onbewus met die idee rond dat mense soos masjiene is. Ons praat van “niemand is onvervangbaar nie”. Dis masjientaal. Dis slegs masjiene of onderdele van masjiene wat sommer net vervang kan word. Dit dra by tot die verarming van die werkskonteks en veroorsaak ‘n drastiese afname in vertroue en lewenskwaliteit by werknemers. Uiteindelik neem produksie en uitkomste ook drasties af.


Empatie en luister kan die “vermenslikking” van die werksomgewing inisieer.


Empatie word oor die algemeen nie met ‘n harde besigheidsomgewings geassosieer nie. Die realiteit is egter dat besigheid en produksie deur mense geskep word. Empatie help dat mense veilig voel en ook dat leiers omgee. Dit laat mense weer soos mense voel. Dit help mense om betekenis te vind in hulle werk en dat hulle gevolglik hulle beste gee. Du Plessis noem drie maniere waarop leiers ‘n empatiese omgewing by die werk skep:


1.    Leer aandag gee

 

Empatie reik uit na ander, gee aandag aan ander, ongeag sosiale status of plek in die maatskappy. Leer om ander mense se perspektiewe te leer ken en verstaan. Ons kan gerus ook leer om meer saam met mense te voel en te empatiseer met situasies. Dis ook om aan te voel wat jou mense van jou nodig het.

 

2.    Raak nuuskierig oor mense se lewens

 

Moet nooit dink dat jy mense geheel en al verstaan nie. Begin mense sien as wonderlike, komplekse wesens, wat beskik oor ‘n rykdom van diepte en wysheid. Navorsing wys dat mense se nuuskierigheid met 95% tussen die ouderdomme van 3 en 23 afneem. Doen op ‘n gepaste wyse oor mense se situasies en lewens navraag. Stel belang. Vra vrae soos die volgende:


  • Is jy getroud? Wie is jou lewensmaat?

  • Het julle kinders? Vertel my van hulle.

  • Wat is jou grootste besorgdhede in verband met jou gesin?

  • Hoe vaar julle finansieel as ‘n gesin?

  • Het jy ‘n ondersteuningsnetwerk? Hoe lyk dit?

  • Wat dink jy van die kommissiestrukture in ons maatskappy?

  • Wat dink jy is redelike doelwitte vir jouself?

  • Wat is jou grootste struikelblokke, wat in die pad staan van jou groei?

  • Wat dink jy is die belangrikste uitdagings, wat ons as ‘n span die hoof moet bied?

 

3.    Leer om te vergewe

 

Empatie vra van my om te verstaan en erken dat alle mense foute maak en ander mense seermaak. Hulle kan jou ook seermaak. Laat hulle dus toe om verskoning te vra. Almal weet dat daar werknemers is in organisasies is wat vir jare lank griewe teen ander lede van die maatskappy of departement hou. Voorsien vir jou mense die hulp van lewensafrigters of selfs beraders, wat hulle kan help om sulke situasies te verwerk.


Die langtermynresultaat van empatie en gesonde verhoudings is ‘n gesonde kultuur asook lojaliteit teenoor die leiers en organisasie. Die mense begin soos die leiers optree en reageer. Mense sal nooit net lojaal teenoor ‘n maatskappy wees nie, maar hulle is teenoor leiers en spanne lojaal.


So bou leiers beter spanne.

Comments


bottom of page