top of page

Moenie arm mense twee keer beledig nie


By een van die hulpprojekte, waarby ekerk betrokke is, vertel die bestuurder van ’n kinderhuis een keer vir my vrou dat mense graag ou klere aan hulle skenk. Hulle is so dankbaar as dit skoon en nog in ’n goeie toestand is. Die meeste mense doen dit so. Nou en dan moet sy sulke klere egter weggooi. Iemand het al komberse daar afgelaai, waarop huisdiere geslaap het. Dit was oortrek van hulle honde se hare. Iemand anders het gebruikte klere afgelaai, wat ongewaste onderklere ingesluit het. Boonop het hy later gebel om te vra hoekom hy nie vir sy skenking bedank is nie. Dit is hartseer dat armes partykeer twee keer beledig moet word. Hulle moet maar vat wat hulle kry, of dit nou stukkend, vuil of onbruikbaar is. Dan moet hulle boonop dankie sê ook.


In Lukas 14 verduidelik Jesus vir ons wat die regte roete is, wanneer ons weggee. Dit gebeur, wanneer Hy vir Sy gasheer tydens ’n ete sê dat as hy weer ’n feesmaal hou, dan moet hy nie sy eie vriende, broers, familielede en ryk mense uitnooi nie. Die gasheer moet dan eerder ’n feesmaal vir vier ander groepe, naamlik armes, kreupeles, verlamdes en blindes hou. Hierdie mense kan hom nooit terugnooi nie. God sal dit egter raaksien en Hy sal dit vir ewig onthou. Doen asseblief wat Jesus hier vra - doen goed aan armes. Seën hulle met goeie klere, goeie kos en met onverwagse vreugdes. Dan leef jy Jesus se woorde na wat Paulus in Handelinge 20:35 aanhaal. Ek praat van sy woorde dat dit beter is om te gee as om te ontvang.

Comments


bottom of page