top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Moenie ’n geestelike konfytbottel wees nie


Hoe lyk geloof wat 'n vervaldatum het? Lees gerus wat Stephan Joubert hieroor skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief.
Moenie ’n geestelike konfytbottel wees nie

Al die konfytbottels op die winkels se rakke het vervaldatums. ‘Sell-by dates” noem die Engelse dit. Iewers verval hulle. Daarom word hulle goed gepreserveer sodat hulle ’n lang rakleeftydperk kan hê. Dit lyk my party gelowiges doen dieselfde met hulle geloof. Hulle is in selfpreserveringsmodus. Die meeste van hulle gebede gaan daaroor dat hulle beskerm moet word, nie dat hulle deur die Here gebruik moet word nie. En dat hulle veilig moet wees, nie dat hulle saam met Jesus in die storms na drenkelinge moet help soek nie.


Voordat jy verkeerd hoor, natuurlik mag ons bid om bewaring en veiligheid, maar dit mag nie die hoofklem van ons gebede wees nie. Of ons lewens oorheers nie. Dan is ons in oorlewingsmodus. Dan wil ons eintlik net ons eie rakleeftyd verleng. Ons pleitroep moet wees om deur die Here gebruik te word. Om ’n dissipel van Christus te wees, is immers om soos die Samaritaan van Lukas 10 te leef. Hy het sy hande vuil gemaak met die bloed van 'n onbekende man, wat onder rowers deurgeloop het. Ook het hy sy beursie oopgemaak om vir hierdie man se versorging te betaal. Om ’n dissipel te wees, is om saam met Stefanus te loop, wat in Handelinge 7 bid dat die Here sy vyande moet vergeef, terwyl hulle hom met klippe doodgooi. Jesus se navolgers deins nie van opofferings en teenstand terug nie. Hulle loop altyd op die hakke van hul Heer. Hulle is nie besig om in geestelike konfytbottels te verander, wat gepreserveer moet word en wat ongebruik op een of ander kerklike rak uitgestal word nie.

Comments


bottom of page