top of page

My “dayjob” is nie my identiteit nie - Jesus is!


Daar bestaan nie iets soos dissipelskap na-ure nie. Of dieetdissipelskap vir liggewig gelowiges nie. In Lukas 17:7-10 leer Jesus dat ons, wat Hom ken as Heer en Verlosser, Sy voltydse knegte en kelners is. Die hemel se servet pas nou oor ons arms as Jesus se kelners en nie meer rondom ons nek nie. Ons voltydse missie is nou om Jesus te volg tussen al Sy gunsteling mense: stukkendes, vergetenes, verlorenes, arrogantes en kie. Ons loop hulle orals raak: in toue by die bank, rondom koffietafels, langs sportvelde, in plakkerskampe, kantore, werkswinkels, hospitale, vriendekringe, families, langs die pad … Ons impak vir Jesus gebeur nou teen die spoed van een getuienis, een gebed, een daad van omgee, of een bemoediging op ‘n keer. Dit gebeur egter aanhoudend, ononderbroke, daagliks, 24/7. Nou skeduleer ons nie meer ons eie getuienis, geloofservarings en lofprysings slegs vir Sondae by die kerk nie. Die Heer werk nou deurlopend op verrassende maniere in ons alledaagse lewe.


As voltydse dissipels van Jesus leer ons gedurig nuwe geestelike vaardighede aan, soos hoe om ons eie dagboek te onderbreek, hoe om ons eie lewe onbepland met ander se laste vol te maak, hoe om ons beursies ruimer oop te maak, hoe om nuwe verhoudings met vreemdelinge aan te knoop, hoe om op vreemde plekke met mense oor die Here te praat … Maar wat ’n avontuur! Jesus is immers nou ons enigste pad en ons enigste Lewe en ons vertrou Hom elke dag op pad! Ons doel is om elke dag deel van Jesus se sending te wees om God se koninkryk orals te laat deurbreek. Ons hoef lankal nie meer al die uitkomste van hierdie sending te ken nie. Ons enigste roeping is om getrou agter Jesus aan te kom. Ons weet nou ons is Sy voltydse dissipels. Ons leefstyl pas gedurig hierby aan. Ons identiteit word hierdeur gevorm. Nee, ons identiteit is lankal nie meer geleë in ons beroep, ons inkomste, ons adres of wat ook al nie. Dit is in Jesus gesetel. Hy is die somtotaal van ons lewe. Dit het tot gevolg dat ons ’n nuwe manier van leef en nuwe prioriteite in plek het. Dit is hoekom ek myself gedurig herinner: “I’m a full-time disciple of Jesus, disguised as a person with a few day jobs.”

Comments


bottom of page