top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

‘n Slagofferkultuur is toksies vir ‘n Christen … en die res!


Een van die grootste uitdagings vandag in ons navolging van Jesus is om onsself só te navigeer dat ons die stem van Jesus helder en duidelik te midde van al die ander stemme en leuens, wat baklei vir ons aandag, hoor. Een van hierdie leuens is die inkoop van sommige mense in hulle eie slagofferskap, wanneer iets onaangenaams met hulle gebeur. Dis asof meer en meer mense nou slagoffers van iets is. Of almal is kwaad. Of almal neem aanstoot oor iets. Almal is op die een of ander manier getraumatiseerd. Almal praat van hoe gebroke hulle nou is.


Moet my die verkeerd verstaan nie. Ons leef inderdaad in ‘n gebroke wêreld. Slagoffers het simpatie / empatie nodig. Hulle moet met toegewyde liefde versorg en ondersteun word. Wat my egter pla is dat mense toelaat dat hierdie pyn en emosionele seer die hoofstorielyn word. Meer nog: dit wórd hulle hoofstorie. Die pynlike deel van hulle lewe is die storie, wat oorwin. Dis die deel van hulle verhaal, waaraan hulle die mag toeken deur dit aan te hou vertel asof dit die laaste woord oor hulle lewe is. Wanneer mens ‘n ruk later, of ‘n paar jaar later, weer met hulle gesels, dan voel hulle steeds soos slagoffers. Of hulle is nou weer slagoffers van iets nuuts. Pyn en gebrokenheid het hulle identiteit geword. Hulle loop gebukkend onder hierdie swaar, negatiewe identiteit. Hulle gebruik denke en taal, wat bevorderlik is vir die negatiewe raamwerk en dit net versterk.


Dis natuurlik waar dat die lewe hard is en dat ‘n mens inderdaad seerkry en vir ‘n tydperk mank loop. Die vraag is egter: Hoe word ‘n mens beter? Hoe herstel ons? Hoe genees die Here ons?


Gesond word kan ‘n lang en komplekse proses wees, maar die Evangelie leer ons dat die eerste stap is om jou Christus-verdiende identiteit te aanvaar en vanuit daardie identiteit te praat. Want taal en hoe jy praat, skep ‘n nuwe realiteit in jou kop. Ek ken persoonlik min mense, regtig min mense, wat so swaar soos Paulus gekry het. Hy is vyf keer deur die Jode geslaan (nege en dertig houe), drie keer deur die Romeine, gestenig en vir dood agtergelaat, het baklei teen wilde diere op die paaie, waar hy gereis het. Hy was permanent besorg oor gemeentes en konflik onder gelowiges, moes hard werk om vir homself ‘n inkomste inbring, terwyl hy die evangelie verkondig. Maar hy klink NOOIT soos ‘n slagoffer nie. Hy praat altyd lewe, altyd vanuit geloof. Hy besing God se lof, wanneer hy met ‘n stukkende, semi-verminkte lyf in die tronk in Filippi sit! Hy sing, want sy stukkende rug is nie sy identiteit nie. Sy lewe en oorwinning in Christus is sy ware storie - dit vorm hom in sy diepste menswees.


Paulus het uit sy hart uit geglo:


-              Hy is vry van die sonde

-              Hy is dood vir die sonde

-              Daar is vir hom geen veroordeling meer nie

-              Hy is ‘n nuwe mens is, die oue is verby

-              Hy is deur God in Jesus se familie aangeneem

-              Hy is saam met Jesus ‘n erfgenaam

-              Hy is ‘n Oorwinnaar deur God, wat hom liefhet

-              Niks kan hom skei van Jesus se liefde nie

-              Alhoewel hy daagliks liggaamlik agteruit gaan, word hy elke dag innerlik vernuwe.


Hy spreek lewe deur evangelietaal te praat. Sy lyding word nie sy identiteit nie. Dit word nie sy hoofstorie nie.


Sy hoofstorie vind hy in Jesus se offer van liefde vir hom en in Sondag se opstanding tot lewe.


Dís die storie, wat in ons lewens moet seëvier!

Comments


bottom of page