top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Neem risiko’s


Lees Matteus 10:39


Party mense bereik op die ou einde niks in hul lewens nie, omdat hulle nooit enige risiko’s neem nie. Ander weer neem die verkeerde risiko’s en faal, omdat hulle nooit regtig voor die tyd behoorlik daaroor nadink nie. Risiko’s is nodig, die regte soort. Sonder waagmoed word ons lewens voortdurend geteister deur daardie drie gevaarlike “V’s”: vaalheid, voorspelbaarheid en verveligheid. Ons kreatiwiteit en leergierigheid neem dramaties af namate ons leefroetines al hoe meer outomaties begin gebeur. Ons raak hoogs voorspelbare wesens, wat afhanklik is van die sekuriteit van oorbekende verhoudings, omgewings en situasies. Fout!


Ons is deur die Gees nuut gemaak om te groei, te waag, te leer en voortdurend te verander tot Sy eer. Maar dit vra ‘n groot stuk dapperheid om uit ons veilige klein kokonne te klim, wat ons om onsself geweef het deur elke dag iets nuut te leer, gereeld nuwe boeke te lees, doelbewus stimulerende gesprekke te voer en wysheid by die regte geestelike mentors te soek. Die lewe neem regtig ‘n totaal nuwe tekstuur aan, wanneer ons risiko’s begin neem, wat God se Naam groot maak en ander se lewens ryker maak. Nog meer, wanneer ons bereid is om op die onvoorspelbare, maar avontuurlike paaie van die Gees te begin loop, gebeur daar groot dinge. Dan is nuwe dinge moontlik, wat die wêreld andersom gaan laat draai. Dan wag daar elke dag ‘n nuwe avontuur op die Here se pad.


Gebed:

Ek waag dit vandag om te bid dat U my lewe deur U Gees op nuwe opwindende roetes lei, Heer. Amen.

Comments


bottom of page