top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Nie onder die wet nie


Lees Galasiërs 5:18

 

Paulus was deeglik bewus van die rol van die wet in enige Jood se lewe. Gehoorsaamheid aan die wet was alles. Maar kort voor lank het dit in ‘n swaar juk verander, wat op almal se skouers afgepak is. Om die wet na te kom, was om ritse en ritse reëls en voorskrifte van die rabbi’s te eerbiedig. Hulle woord was wet. Maar Jesus, en later ook Paulus, was baie duidelik uitgesproke teen hierdie veruiterlikte wet, wat swaar laste op mense se skouers geplaas het. Die funksie van die wet is juis om mense vry te maak om in ‘n liefdesverhouding met God en ander te staan. Die wet slaan nie, maar trek nader.


Die wet se baasskap, soos wat dit in Paulus se tyd misbruik is, is nou verby. Nou is die Gees die nuwe Leermeester in ons lewe. Nou leer die wet ons nie meer wat reg en verkeerd is nie. Nee, die Gees doen dit sommer self. Het jy gehoor: die wet is nie meer die rigsnoer vir reg en verkeerd nie, maar die Heilige Gees. Dit is Paulus se bedoeling met die kontras tussen die wet en die Gees. Teenoor die wet, wat op klippe gekom het en nie mense se klipharte kon verander nie, skryf die Gees God se liefdesbeginsels daagliks in ons lewens oor op só ‘n manier dat dit maklik doenbaar en leefbaar is.


Gebed:

Gees van die lewende Here, leer my wat U wil vir ons lewe is. Amen.

Comments


bottom of page