top of page

Nie wat jy wil nie


Lees Galasiërs 5:17b

 

“Ek is nou mondig. Ek kan nou doen wat ek wil,” sê ‘n jongmens nou die dag vir my. “Jong, daar wag dalk ‘n paar groot verrassings op jou,” het ek dadelik geantwoord. “Die lewe is helaas nie so maklik dat jy kan doen net wat jy wil nie. Daar’s wie weet hoeveel mense saam met jou op Moeder Aarde, wat jy op verskillende maniere moet in ag neem wanneer jy motor bestuur, asook daar waar jy werk of woon. Nooit is jy so vry dat jy jou aan niks of niemand anders hoef te steur nie.

Ook vanuit die hoek van die Heilige Gees se werk is daar ‘n belangrike rede hoekom ons nie kan doen wat ons wil nie. Dit is omdat ons in ‘n nuwe verhouding met ‘n nuwe Heer met andersoortige waardes, beginsels, reëls en verhoudings staan. Ons is onder nuwe bestuur. Ons het ‘n nuwe Eienaar en ‘n nuwe Heer, voor wie ons buig. Sy wil kanselleer ons s’n. Daarpm is Sy stem die enigste een, wat ons wil hoor. Sy opinies is ons koersaanduiders. Sy drome is ons lewe se bouplanne. Ons dans volgens Sy musiek en leef slegs volgens Sy voorskrifte. Daarom wil ons nie vry wees om te doen wat ons wil nie. Ons wil net doen wat ons Here se hart blymaak. Sy bevele is ons lewe. Ons is slegs vry wanneer ons binne Sy wil leef en werk.

 

Gebed:

Ek wil nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil, grote God. Amen.

Comments


bottom of page