top of page

Olimpiese Spele



Dit is so lekker om te sien hoe ʼn top-atleet haar beste gee by ʼn geleentheid soos die Olimpiese Spele. Ek en jy het die voorreg om die oomblik van glorie te aanskou. Mense jubel en juig terwyl die kameras flits en kommentators blitsi­g woorde in sinne bymekaar sit.

 

Dit is so onaangenaam om te sien hoe ʼn humeurige persoon met ʼn gedurige kort lont dit regkry om met min provokasie tot ʼn uitbarsting oor te gaan. Dan het ek en jy die nadeel om die oomblik van konsternasie gade te slaan. Dit raas en sis tussen haar tande deur terwyl omstanders koes, bloos of skarrel.

 

Ons weet dat ʼn Olimpiese atleet nie twee dae gelede eers besluit het om aan die betrokke sport deel te neem nie. Nee, hy oefen jare lank getrou aan die sport. Dit vra ʼn daaglikse toewyding om ʼn wêreldklas-atleet te word. Die res van ons sien dit nie almal raak nie.

 

Dieselfde beginsel geld egter ook vir iemand wat gereeld en graag woedend raak. Sulke gedrag spring gewoonlik nie ʼn dag of twee vantevore vir die eerste keer uit nie. Dit kom óók met getroue oefening. En hierdie inoefening gebeur ook nie noodwendig voor ander toeskouers nie.

 

Jy kan jouself leer om gedurig en maklik kwaad te word. Ons doen dit wanneer ons die heeltyd uitkyk wanneer iemand ons te na gaan kom, of wanneer iemand iets gaan doen of sê wat netjies inpas by ons idee van hoe verkeerd hulle is. Later verwag jou brein nie meer om iets anders te sien nie – jou “breinspiere” is geoefen en gereed dat jy jou kan vererg.

 

As jou brein so slaggereed is vir ʼn veldslag, gebeur dit maklik dat jy groot reaksies het op ʼn klein bietjie inligting. Ons sien soms hoe mense op sosiale media vreeslike verontwaardigde en kwaai sinne rondgooi. Wat ʼn jammerte is dit nie as ons dan later agterkom dit was ʼn groot bohaai op grond van ʼn klein bietjie informasie nie.

 

Die goeie nuus is wel dat ons kan oefen hoe om dankbaar te wees.  Jy kan daagliks bestekopname doen om net te bepaal waarvoor jy alles dankbaar is. Dit oefen nog van die gesonder “breinspiere”. Wanneer iets gebeur wat jou aggressie wakker maak, kan jy op nóg ʼn manier oefen. Jy kan vra: “Wat weet ek nog nie, wat dalk my perspektief hieroor sal verander?”

 

Hierdie twee oefeninge is nie so skouspelagtig nie. Dit maak jou ook nie oornag ʼn Olimpiese Dankbaarheidskampioen nie. Maar net soos wat ʼn swemkampioen uiteindelik die vrug van gereelde oefening sien, sal jy mettertyd ook agterkom dat jou reaksies op die lewe anders begin lyk.

 

Kolossense 3:15-16 moedig ons aan om gereeld deel te neem aan hierdie oefeninge, sodat ons woorde en ander reaksies God sal eer:

 

Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.

Comments


bottom of page