top of page
Writer's pictureHelena Smith

Om met God te wandel


Volgens die woordeboek beteken die woord  “wandel” rustig loop of êrens heen stap. As ek die woord “wandel” hoor, sien ek in my geestesoog twee mense, wat gemoedelik  saam stap, nie te vinnig nie. Hulle gesels lekker, maar daar is ook gemaklike stiltes. 


In Genesis lees ons van ‘n man met die naam Henog.  Henog het 365 jaar oud geword. Ons lees dat hy welbehaaglik was vir God en dat hy God se goedkeuring weggedra het. In die Engelse NIV lees ons in Genesis 3:23:  “Enoch walked faithfully with God, then he was no more, because God took him away.”  Nog ‘n interessante feit van Henog is dat hy nie gesterf het nie, maar dat God hom “weggeneem” het.   


Om met God te wandel, beteken om dinge op ‘n seker manier te doen. Vir Henog was dit ‘n deel van sy lewe om God te dien. Hy het in gehoorsaamheid en in ‘n verhouding met God gelewe. 


As ek en jy dus saam met God wil wandel, impliseer dit ‘n daaglikse saam stap. Hý neem die leiding en ons volg. In Deuteronomium 8:6 lees ons: “Gehoorsaam die gebooie van die Here jou God deur op Sy paaie te loop en Hom te eer.” 


Twee mense, wat saam wandel, kan ook nie in verskillende rigtings stap nie. As ek en jy saam met God wil wandel, moet ons ons rug op die wêreld draai. Die wêreld is ‘n donker plek, waarin sonde “genormaliseer” word.  Ons leef in ‘n kultuur van “anything goes”.  As dit jou begeerte is om saam met God te wandel, moet jy onthou dat ‘n mens nie God en die wêreld kan liefhê nie.   


Ons moet onthou dat Satan ons graag van ons wandeling met God wil weglei. Hy laat die afdraaipaadjies baie begeerlik en lekker lyk. Watter afdraaipaadjies in jou lewe vind jy aanloklik? Op watter gebiede word jy uitgedaag en sondig jy maklik? Die waarheid is dat die wêreld ons telkens sal teleurstel. Ware vrede en vreugde kan net by God gevind word.   


In 1 Johannes 1 lees ons dat ons in die lig moet wandel. Jesus is die Lig. Hy is ook Liefde en Waarheid. As ons wonder oor ons volgende tree, onthou dat die Bybel die lig op ons pad is en dat ons Jesus se voorbeeld moet volg. 


Op die pad saam met Jesus sal jy Sy Woord en Sy wil leer ken.  Jy sal Sy hart leer ken en dan sal jy Hom wil volg, nie omdat jy gedwing word nie, maar omdat daar ‘n diep verbintenis tussen jou en God is. 


Craig D. Lounsbrough sê die volgende:  “In walking with God, it’s not about knowing the facts. Rather it’s about knowing the God who knows the facts.

Comentarios


bottom of page