top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Om vreugde uit te deel, in liefde


Hy (Nehemia) het ook vir hulle gesê: “Gaan eet ‘n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ‘n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die HERE gee, sal julle krag wees!”  - Nehemia 8:10

 

Ek het al so dikwels die liedjie gesing: “Die vreugde van die Here is my krag”, sonder om hierdie kragtige vers in konteks te lees. Ja, dit gaan daaroor om in swaarkrytye die Here se teenwoordigheid met lofprysing as’t ware in my situasie in te bring. Maar dit gaan oor soveel meer: “Gaan deel met ander wat niks voorberei het nie.” Met ander wat dalk niks het om voor te berei nie, of nie in staat is om iets voor te berei nie.

 

Ons was ‘n paar jaar gelede self aan die ontvangkant van hierdie gebaar van seën. Ons het ‘n groot besigheidsterugslag beleef. Sommer gou het ‘n vriendepaar met ‘n lieflike maaltyd op ‘n groot skinkbord by ons opgedaag. Die heerlike maaltyd, opregte trooswoorde en sommer net liefdevolle samesyn was werklik ‘n groot seën.

 

Dis nie noodwendig nodig om met ‘n oplossing by iemand wat swaarkry, aan te kom nie. Sommer net ‘n bos blomme en ‘n drukkie, of ‘n koevert met ‘n geldjie, is dikwels net die bemoediging wat iemand nodig het. Iemand het vir ‘n weduweevriendin wat haar arm gebreek het, ‘n maaltyd op ‘n skinkbord geneem, mooi opgedien, met ‘n klein nagereggie en selfs ‘n klein botteltjie wyn. ‘n Ander vriendin weer, het vertel hoe hulle vir haar terminaalsiek pa altyd ‘n blommetjie op sy skinkbord gesit het wanneer hulle sy kos kamer toe geneem het.

 

Ek was onlangs verras deur ‘n eenvoudige gebaar: ‘n Dame wat voor my in die kasregistertou gestaan het, het sonder ‘n woord ‘n klein goue kaartjie met ‘n kort boodskappie oor God se liefde wat in Christus sigbaar geword het, in my hand gestop! So kan dit ook ‘n geweldige groot seën vir gewer en ontvanger wees as ek so af en toe met ‘n koevertjie met geld met die boodskap: “God het jou lief” (Johannes 3:16) loop en dit ongemerk vir iemand gee, selfs vir daardie vreemdeling wat die Here vir my wys.

Comentarios


bottom of page