top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Omgee: So maak mens



‘Wat is daarin vir my?’ Dis die eerste vraag wat mense gewoonlik vra, as hulle ‘n transaksie sluit. Soms word mense se geloof ook beïnvloed deur sulke vrae. Paulus het egter ‘n ander roete gekies. Hy het die vraag verander van: “Wat gaan ek daaruit kry?” na “Watter voordeel gaan ander uit my gawes kry?” Dis ‘n reuse skuif. Paulus was nie in diens van die evangelie ter wille van homself nie. Dit het oor God gegaan en oor ander mense. Hulle het meer as hyself saak gemaak. As hy ander in geestelike miljoenêrs verander, dan het hy gewen. Sy eie veiligheid of voordeel was nooit ‘n opsie nie.


Paulus was ‘n dienskneg en ‘n bediende, nie ‘n “geestelike ster” nie. Paulus se lewensdroom was om ander in die wedloop van die geloof te laat wen. Om mense te dien, is meer as om die minste te wees. Egte diens verander ander in volgelinge van Christus. Daarom geld die volgende lesse vir my:

  • Ek dien mense as ek hulle help om geestelik op hulle eie bene te staan.

  • Ek dien mense as ek hulle leer om die Bybel te bestudeer.

  • Ek dien mense as ek hulle leer om elke dag vir Christus te leef.

  • Ek dien mense as ek hulle begelei om die Here en mekaar regtig lief te hê.


Gebed:

Leer my om ander elke dag met my gawes te dien, Here. Amen.

Comments


bottom of page