top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Onder die invloed van…


Wanneer jy hoor iemand is “onder die invloed,” dan weet jy hy of sy is tans goeie vriende met Bacchus. Alkohol se invloed word gou-gou sigbaar in mense sigbaar. Dit raak hoorbaar en voelbaar. Paulus skryf in Efesiërs 5:18 dat daar ’n ander Invloed in ons lewe nodig is as dié van Bacchus. Hy sê ons moenie dronk word van wyn nie, maar ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons vervul. Net soos wat drank ’n sigbare effek in sommige mense se lewe het, moet die Gees se invloed sigbaar, hoorbaar en voelbaar in ons eie lewens wees. In Efesiërs 5:19-20 beskryf Paulus hoe dit moet gebeur wanneer hy sê: Bou mekaar op deur psalms en lofliedere en geestelike musiek. Sing en loof die Here met julle hele hart. Sê altyd vir God dankie vir alles. Hy is ons Vader. Doen dit in die naam van ons Here, Jesus Christus” (NNT-vertaling). 


Wanneer ons onder die invloed van die Gees is, hoor jy dit in ons musiek en in ons taal. Sy invloed raak voelbaar in nuwe verhoudings met ander mense. Ons dra mekaar op die hande. Ons bou mekaar op in ons geloof. Ons leef ons geloof met integriteit uit tussen almal met wie ons te doene het. Kortom, wanneer ons onder die Gees se invloed is, lek dit uit op mooi en oortuigende maniere!

Comments


bottom of page