top of page

Ons is nie gevangenes van verveeldheid nie


Gene Cernan was ‘n bemanningslid aan boord van Apollo 17. Hy het een keer opgemerk: “A funny thing happened on the way to the moon: not much!” Verveeldheid kom egter nie net by ruimtevaarders oor nie. Dit gebeur met ons almal. Sosiale media en selfone is deesdae die grootste sondebokke in hierdie verband. Flitsende beelde op sosiale media, asook aanhoudende biepgeluide op ons selfoon om ons te herinner aan nuwe boodskappe, veroorsaak dat ons blitsvinnig met enigiets waarna ons kyk of luister, verveeld raak. Dan skuif ons maar net weer na ’n volgende plasing … en na nog ’n volgende een. Niks hou meer ons aandag vir lank nie. Ons is voltyds verveeld en nutteloos verdwaald.


Ons slaan hierdie dodelike verveeldheid hok, wanneer ons doelbewus kies om op nuttige maniere te leef. Ons gee sin en betekenis aan ons eie lewe as ons elke dag aktief by die Here vir egte én regte leefdiens aanmeld. Ons kies om dag vir dag te verskuif vanaf verveeldheid na konstruktiewe aanwesigheid deur te weier om verveeld digitaal rond te dwaal. Ons weier om voltydse gevangenes te wees van ons selfone te wees. Ook verseg ons om gedurig soos wafferse rusbankaartappels voor die TV vasgekluister te sit. Ons doen elke dag in die Here se Naam iets goed en nuttig vir ander mense. Ons reik uit en dien. Ons bid en doen goed. Ons is nie gevangenes van verveeldheid nie.

Comments


bottom of page