top of page

Ons is nie God se advokate nie, maar…


God het nie ’n aardse regspan nie. Hy het nie een van ons ooit gekontrakteer om Hom te verdedig asof Hy iewers in die moeilikheid is nie. Hy is nie die hoofaangeklaagde in enige menslike beskuldigdebank nie. Die Here is nooit onder beskuldiging nie, al dink elke verbitterde en elke ongelowige hulle kan van Hom sê net wat hulle wil. Die Here het Sy eie hemelse advokaat. Dit is die Heilige Gees. So leer Jesus ons in Johannes 14 en 16.


Jesus sê dit is die werk van die Gees om al die nodige oortuigswerk in mense se lewens te doen. Dit is Hy, wat ons oortuig wie God is, asook wie onsself is in Sy teenwoordigheid. Dit is die Heilige Gees, wat ons oë oopmaak vir die Here se genade. Dit is Hy wat ons ook op die regte paaie lei. Die Gees is ons Pleitbesorger, ons Voorspraak, ons Helper, ons Redder, ons Helper.


Die feit dat die Gees God se Advokaat of Verdediger is, onthef ons nooit van ons eie verantwoordelikheid om reg te dink en reg te praat oor God nie. Dit vereis dat ons onsself gedurig deur die Heilige Gees moet laat onderrig. Die Gees is ons Leermeester, wat ons lei in die Here se waarheid. Hy stel ons ook in staat om Jesus se getuies te wees. Hoor weer: die Gees verander ons in Jesus se getuies, wat vertel van Sy redding en vryspraak.

Comments


bottom of page