top of page

Oop hande, eerder as gebalde vuiste


Iewers in ’n gesprek tussen ‘n joernalis en Bono, die bekende rock-sanger en aktivis, merk hy op: “I was born with my fists up and putting them down is difficult for me.” Baie van ons kan hiermee identifiseer. Ons kan dit nie uitstaan dat alles rondom ons uitmekaar val nie. Of dat korrupsie en misdaad orals wen nie.


Hoe gemaak met ons eie onsteltenis oor alles, wat skeefloop? Die Here vra meer van ons as om net omgekrap te wees. Dit help nie. Almal kry dit reg. Ons moet eerder verlore grond vir die Here terugwen. Ons moet onreg in Sy Naam teenstaan. Hoe? Ons kan in die bres tree vir diegene wat nie vir hulleself kan opstaan nie. Ook kan ons hongeriges versorg en omgee vir eensames, afgeskryfdes en hulpeloses. Ons kan mense ondersteun in openbare posisies, wat ‘n daadwerklike verskil maak in die aanspreek van daaglikse probleme. Ons kan saam met gemeenskapsleiers na kreatiewe oplossings soek om woonbuurte te beveilig en om ons strate te herstel. Ons kan fluitjies teen skelms en omkopers blaas. Ons kan gelowig bid dat God se Naam geheilig word, dat Sy koninkryk kom en dat Sy wil geskied. Dan leef ons nie met gebalde vuiste nie, maar met oop hande in die rigting van God en ander. Dan is ons hande eerder wapens van herstel en opbou in die Here se diens.

Comments


bottom of page