top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Op die regte tyd op die regte plek – God is in die detail


Ek lees nou die dag ʼn interessante ding: Behalwe vir die feit dat Elisama ʼn staatsekretaris vir die leiers van Juda in die tyd van koning Jojakim was, weet ons nie veel van hom af nie. Baruk was Jeremia se sekretaris.


God het in die jaar 603 v.C. aan Jeremia opdrag gegee om al die woorde wat Hy sedert die dae van koning Josia tot hom gespreek het, in ʼn boekrol op te teken. Hy het gehoop dat Juda tot bekering sou kom as hulle hoor van al die rampe wat Hy oor hulle wil bring.


Jeremia was onder huisarres en het aan Baruk opdrag gegee om die boekrol in die tempel te gaan voorlees. Belangrike amptenare het daarvan te hore gekom en Baruk het die inhoud van die boekrol ook aan húlle voorgehou. Elisama het die boekrol in sy kantoor bewaar terwyl die amptenare die nuus van die verdoemende profesieë aan die koning gaan oordra het. Jojakim het hom egter glad nie aan die woorde van Jeremia gesteur nie en die boekrol verbrand.


Waarom is Baruk en Elisama so belangrik as daar so kortstondig na hulle rolle verwys word? Nie een van hulle het enige wonder- of heldedade verrig nie. Daar word wel later in Jeremia 45 weer na Baruk verwys, maar in ʼn baie swak lig.


Ons lees in 2 Timoteus 3:16 dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en dat dit die waarheid onderrig, dwaling bestry, verkeerdhede regstel en ʼn regte lewenswyse kweek. Maar hoe kan ons hiervan seker wees en hoe geloofwaardig is die detail wat veral in die Ou Testament verskaf word?

Die Franse skrywer, Gustave Flaubert, het gesê: “The good God is in the detail” en die skrapse verwysings na Elisama en Baruk is ʼn bewys hiervan.


ʼn Aantal kleiseëls, wat uit die tyd van Jeremia dateer, is in die 1970’s in Jerusalem ontdek, onder andere een waarop daar staan: “Baruk, seun van Nerija, sekretaris” en ʼn ander, wat lees: “Elisama, dienaar van die koning.” Kenners het bevestig dat beide die seëls eg is en die ontdekking word wyd beskou as ʼn bewys dat inligting in die Bybel, selfs in die fynste detail, korrek is. Ons kan hieruit aflei dat die meer belangrike stories, byvoorbeeld die hele verhaal van Jeremia, ook waar en nie uit die duim gesuig is nie.


Dit leer ons dat daar waarde in detail steek en dat enigeen ʼn rol, hoe klein ook al, kan speel in die bevordering van die koninkryk van God. Nie Elisama of Baruk sou ooit in hulle tyd kon raai dat hulle ʼn aandeel daarin sou hê om die Bybel as ʼn korrekte, gedetailleerde weergawe van die geskiedenis te bewys nie. En kyk nou net!

Comments


bottom of page