top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Perskeboom


Hier in die Kaap het die winter oornag opgedaag.

 

Die een oomblik is die wêreld droog en die dagtemperature styg tot by die 30’s. Die volgende oomblik het die winter oornag aangebreek en sien ons oral video’s en foto’s van verspoelings en vol riviere. ʼn Week tevore loop baie nog met T-hemde en ligte bloese rond. Hiérdie week sien ons waterstewels, wolmusse en winterjasse.

 

Daar is egter een interessante detail in my agterplaas. Daar staan ʼn jong perskeboompie. Hierdie betrokke boompie het in Meimaand twee pienk bloeisels uitgestoot en ek het hulle met gemengde gevoelens van bekommernis en verwondering gade geslaan. Bekommernis, want die boompie se bloeisels steek gewoonlik eers in Augustus hulle kop uit. Verwondering, want hoe werk hierdie seisoene en bome en hoe weet hulle in elk geval wanneer om te blom?

 

Intussen het die koue egter in sy volle glorie opgedaag. Ek het na die bloeisels gaan kyk. Hulle het afgeval. Enige tekens van ander bloeisels, wat dalk wil uitkom, het verdwyn. Dit lyk asof die perskeboom teruggedeins het van sy oortuiging dat die bloeiseisoen aangebreek het en ek is heeltemal tevrede daarmee.

 

Hoekom is ek hiermee tevrede?

 

Die antwoord is eenvoudig. Ek wil hê dat die boom gesond moet wees. Die moontlikheid van goeie en gesonde vrugte is afhanklik van ʼn goeie en diep winterrus vir die boom. Solank as wat ons op aarde met vier seisoene leef, kan ons nie bome kry wat twaalf maande van die jaar lank vrugte dra nie. Om in die somer vrugte te dra, het die bome in die winter rus nodig. Vra maar vir enige kersieboer.

 

Hierdie perskeboom het geretireer toe die winter opdaag.

 

Ek wens dit só vir jou wat hier lees. Ek wens die volgende vir

  • Mag jy diep rus vind, wanneer jy dit nodig kry, sodat jy volronde, ryp vrugte op die regte tyd kan

  • Mag jy jouself daarvan weerhou om skielik te begin blom, omdat dit lyk asof almal dit verwag, maar dit is nog nie die regte tyd

  • Mag jy voortydige ywerigheid groet en laat gaan as jy ontdek dit was nie nou die regte oomblik

  • Mag jy minder fokus op jou blare, bloeisels en vrugte en meer aandag gee aan jou wortels, omdat jy weet die res sal vanself

  • Mag jy genade vir jouself en ander hê, wanneer die winter of die lente langer as gewoonlik neem om op te daag.

 

Romeine 12:2 help ons eintlik ook hiermee:

 

Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is. (2020)

Comments


bottom of page