top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Respek is nie my reg nie - dis wel my lewenslange opdrag


Ek herinner myself graag aan Aretha Franklin se lied, “Respect”, wanneer ek tussen mense is, wat die slegste in my te voorskyn bring. Ongeskikte mense, wat jou behandel asof jy hulle slaaf is, of wat na jou afpraat en jou beledig, maak die lewe soms moeilik. As dít gebeur, wil ek saam met Aretha Franklin sing: “All I’m askin' for is a little respect.” Maar ek weet dan diep in my hart dat die Here iets anders as dit vra. Dit gaan nie oor wat ander aan my moet doen of bewys nie, maar oor hoe teenoor ander mense as ’n kind van God moet leef.


Respek is egter nie iets waarop ek wag van die kant van ander mense af, asof ek daarop geregtig is nie. Respek is heel eerste die regte manier van leef en optree teenoor ander waartoe die Here my oproep. Respek is proaktief. Ek doen dit eerste. Ek doen dit altyd. Ek bou die koninkryk van God uit deur die boustene van die liefde, wat ek in ander se lewens inmessel. In die taal van Levitikus 19 vra dit onder andere dat ek deernis vir vreemdelinge en bekendes, wat deur die lewe skoongeboul is, moet hê. Dit vra van my om ruimte te help skep vir mense, wat nie dieselfde kanse en geleenthede as ekself het nie, sodat hulle ook ‘n slag vry kan asemhaal. Dit vra van my om alle mense met respek te behandel, al ontvang ek nie dieselfde behandeling terug nie.

Comments


bottom of page