top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

SA maak saak!


‘n Vriend van my vertel vir my die ander dag hoe ‘n vriend van hóm teruggekeer het na Suid-Afrika na ‘n paar jaar in Australië. My vriend vra hom toe wat hom laat terugkeer het na ‘n land, waar ons nie eers meer alle ure van die dag krag het nie. Hulle het ‘n lang gesprek daaroor gehad, maar hy antwoord toe onder andere soos volg:


In Australia everything works but nothing matters;
In South Africa nothing works but everything matters!

Hy het onder andere die volgende bedoel: Alhoewel Australië ‘n lekker land is om in te woon, is die voorspoed, wat hulle beleef, primêr materieel. Die land is ook byna geheel en al sekulêr en geloof is seldsaam. Daarom leef mense gemaklik, maar hulle vind nie so baie betekenis in die dinge rondom hulle nie. Hulle sien God nie meer raak nie.


In Suid-Afrika is daar nog soveel betekenis en veral diepte, juis omdat soveel mense gelowig na hulle lewens kyk. Geloof maak dat ons Goddelike waarde heg aan die dinge, wat ons doen. Ons word deur ons geloof uitgedaag om nie op te gee nie, om weer te probeer om die rasse-ding te laat werk, om nog ‘n keer te glimlag vir die petroljoggie, om nog ‘n keer ‘n hand uit te steek om te help, om mekaar weereens te vergewe. Hy beweer toe ook dat ons nie besef hoe alle oë in die buiteland steeds op Suid-Afrika gerig is nie, hoe mense na ons kyk om te sien of so ‘n groot verskeidenheid mense in een land in vrede kan saamleef. Wat ons doen, maak saak, maak régtig saak!


Ons geloof veroorsaak dat ons waarde heg aan ons daaglikse besluite, dat ons moeilikhede, soos Eskom, die hoof kan bied en steeds ‘n mate van vreugde kan beleef.


Suid-Afrikaanse Christene probeer die moeilike doen. Om so ‘n diep en seer geskiedenis saam met ander bevolkingsgroepe in die land te deel, is nie maklik nie. Ons het mekaar al soveel seer gemaak, maar dit lyk asof daar ‘n groep Suid-Afrikaners is, wat nie opgee nie. Emosies loop permanent hoog en broei onder die oppervlak. Om buiten dit steeds saam met God die lewe in die oë te kyk en ‘n sagte hart te hê vir ons medeburgers, benodig ‘n wonderwerk, sê die vriend. Dit is sy waarneming.


Dit maak saak! Wat ons doen maak saak!


Dis natuurlik maklik om hierdie vriend se opmerkings aan flarde te skiet. Jesus wil so graag ook werk in en deur enige iemand in die buiteland.


Point taken.

Ek kon egter nie help om te dink dat waar daar selfs net ‘n handjie vol Jesus-volgelinge is, wat hard werk aan God se koninkryk, dinge altyd saak maak nie. Daar is soms meer wonderwerke as wat ons raaksien.


God is hier. Met ons. Met Suid-Afrika. Met jou, my, De Ruiter en die res. Hy is steeds besig om ons elke dag aan te spoor deur middel van Sy genade, liefde en transformerende teenwoordigheid. Hy bring soveel betekenis en vreugde! Elke dag skenk Hy nuwe lewe.


Ons lewens tel.


Dis die Evangelie.

Comments


bottom of page