top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Ses mense wat ons op Facebook teëkom


Daar is ses mense, wat ons almal oral op Facebook teëkom:


Prestasiehasies: Die prestasiehasies publiseer meestal hulle eie en hoogs talentvolle kinders se prestasies. Selfs foto’s van die sertifikate en rapporte word geplaas en as die hasie ’n nuwe motor, huis of koekklitser koop, weet almal dit.


Selfiebrigade: Die selfiebrigade plaas nét selfies, waar hulle in verskillende posisies, met verskillende haarstyle en naels en in die nuutste modes en gimnasiumklere poseer. Hulle verskyn op net mooi elke foto op hulle profiele.


Goedgelowiges: Hierdie Facebook-gebruikers glo en versprei elke liewe ding, wat hulle sien. Jy dink by jouself: Waar in jou lewe, liewe mens, het jy al van pienk en geel suikerbekkies of ’n olifant, wat kan praat, gehoor?


Bewaarders van goeie sedes: Die bewaarders van goeie sedes is altyd op die uitkyk vir sondaars, wat verkeerde goed sê en publiseer. Jy weet nooit wanneer hulle kommentaar op jou “onskuldige” plasings gaan lewer nie aangesien net mooi alles ’n bose konnotasie het, selfs Liewe Heksie en Kersfees.


Wêreldreisigers: Die wêreldreisigers rits rond en dokumenteer elke oomblik van hulle vakansies, of dit nou in Durban, die Seychelles of Rome is. Daar verskyn maklik 150 foto’s vier maal per dag en die res van ons, wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, verkeer in ’n permanente staat van irritasie en sondige afgunstigheid.


Kampvegters: Kampvegters het altyd die een of ander saak waarvoor hulle bloeddorstig baklei. Hierdie een staan bankvas agter Israel en die ander agter Palestina. Ek stem luidrugtig vir Trump en jy skree “Kamala!”. Hy eet vleis, soos net ’n leeu kan, en sy sit nie eens haar mond aan heuning nie.


Ek sien myself in elkeen van hierdie Facebook-gebruikers en kry skaam omdat ek ook soms selfgesentreerde en veroordelende inskrywings maak. Maar dit is nie al nie. Ek veroordeel mense op grond van wat hulle publiseer en raak geïrriteerd met ander se kommentare en plasings. Verder dink ek, elke slag as ek deur die plasings blaai, dat “common sense” nie so “common” is soos wat die frase ons wil laat glo nie. Effe meewaardig, sou ek sê …


Ek dink ’n Christen se optrede – beide woorde en foto’s – op Facebook en ander sosiale mediaplatforms is ’n balanseringstoertjie. Ek kan maar soms veg vir dit wat reg is en ’n ander keer met my oulike kinders spog. Verder sal ’n paar foto’s van my vakansie nie skade doen nie en as ek nie saamstem nie, kan ek my redes mos op ’n liefdevolle manier verduidelik.


Die grootste vraag bly altyd die geykte sêding, wat ek uit my tienerjare onthou: Wat sou Jesus doen? Paulus se woorde in Efesiërs 5 is ’n goeie riglyn: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg… Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.”

Comments


bottom of page