top of page

Skoonheid is die werk van die Here!


Ons ken ‘n engel, ek en my vrou. Hierdie engel werk in ons tuin. Hy is trouens so mal daaroor om tuin te maak en neem sy werk so ernstig op dat ek en Marié nie sommer in ons eie tuin kan aanvang wat ons wil nie. Ons moet eers verby Christopher kom. Hy het soveel eienaarskap oor ons tuin se toestand geneem dat hy sterk opinies het oor wat mag en wat nie mag in ons tuin nie. Ons laat hom begaan. Ons noem hom ‘n engel, ‘n boodskapper van God, want die hoeveelheid geestelike insig en wysheid wat ons al van hom ontvang het, sal enige geestelike leier se mond laat water. Die nuutste een was nou die dag toe my  vrou vir hom vra:


“Christopher, don’t you ever get tired of tending to the same gardens every week?”


Sy antwoord was eenvoudig:


“No, madam, never. When I make things beautiful, I know that the Holy Spirit is my Helper!”


Christopher is ‘n beter teoloog as wat hy dalk self besef. Skoonheid as geestelike waarde is nie iets waarop ons Protestante tot nou toe genoeg klem gelê het nie. Die Grieks-Ortodokse Kerk, asook Katolieke soos Tomas Aquinas, het egter nog altyd gesê dat oral waar waarheid, goedheid en skoonheid aangetref word, Christus aan die werk is. Ons hou daarvan om Jesus as die Waarheid voor te hou. En Hy ís natuurlik dit. Ons wil egter altyd net op die waarheid staan en vir die waarheid baklei. Dis ook goed. Maar baie mense kry nie toegang tot Christus, wanneer hulle Hom bloot as Waarheid beleef nie. Baie mense leer Christus eers ken uit die Skoonheid wat Hy is. Dan beleef hulle dalk Sy goedheid. Dan kom hulle agter dat Hy die Bron en Oorsprong van al drie hierdie dinge is. Dan mag hulle Hom as Christus aanvaar.


Christopher het ons egter herinner dat wanneer ons enige vorm van skoonheid skep, ons ook besig is om Jesus te verkondig. Hy het ons daaraan herinner dat God se eerste opdrag aan ons was om tuin te maak, om dinge mooi te maak.


Dankie, Christopher.


Die vraag vir ons as Jesus-volgelinge is dus nie net hoe om goed te wees nie. Dis ook nie bloot oor hoe om die waarheid te ken nie. Dis hoe om God se Skepper-Gees toe te laat om ‘n mooi, beeldskone storie deur ons lewens te skryf, waardeur almal Christus kan sien, hoor, voel en proe.


Dink jou in hoe dit sal wees as ‘n bepaalde gemeente nie net in die waarheid glo nie, maar ook God se eindelose goedheid uitleef en sy asemrowende skoonheid ten toon stel.


Ek dink die wêreld sal toustaan om Sondag by die deure in te kom!

Comments


bottom of page