top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Soos jouself


Lees Efesiërs 5:28

 

Mans kan beslis nie dink hulle het dit gelukkig getref dat hulle vroue tot spesiale dienslewering in die huwelik opgeroep word nie! Nee, hulle kry nog ‘n taaier roeping as selfs dit by die Here, om naamlik hulle vrouens lief te hê soos wat Jesus Sy kerk sonder enige reserwes liefhet. Maar dis nog nie al nie. Mans moet hulle vrouens boonop ook liefhê soos wat hulle hul eie liggame liefhet. Vroue word verniet daarvan beskuldig dat hulle alleen maar die ydel geslag is. Mans trap ook ewe gerieflik in hierdie lokval. Aan die ander kant is gesonde selfliefde nie verkeerd nie. Trouens, Paulus ondersteun dit baie sterk as dit oorvloei in wedersydse liefde.

 

Gesonde selfliefde is om jou liggaam goed te versorg en te koester. Mans doen dit vir hulle liggame en nou moet hulle dieselfde jeens hul vroue doen. Net soos wat hulle vir hulleself sorg dra, moet hulle vir hul vroue sorg dra. Dis God se opdrag. Dis daarom ook die Gees se werk om hierdie versorging vanuit mans se harte na hul vrouens te laat oorvloei. Dit vra tyd, omgee, liefde, deernis en nogmaals tyd. Kortom, soms moet ‘n besigheidsafspraak laat staan word, of ‘n gholfoggend saam met die manne uitgestel word ter wille van ‘n gelukkige huwelik. Opoffering is die sleutel tot versorgende liefde. Dit inspireer. Dit verander. En dit dra goeie vrugte.

 

Gebed:

Vernuwe U kinders se huwelike deur U Gees se werk, Heer. Amen.

Commentaires


bottom of page