top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Tevredenheid gewaarborg


Daardie frase wat vroeër jare gebruik is om baie produkte mee te bemark: “tevredenheid gewaarborg” (“satisfaction guaranteed”) het stilweg verdwyn. Min mense is deesdae tevrede met hulleself, met die lewe, met ander en selfs met God. Hulle is verveeld, geïrriteerd, kwaad en onvervuld. Niks of niemand kan enige tevredenheid meer aan hulle bied nie. Dalk het die Rolling Stones dit doer in 1965 goed saamgevat toe hulle gesing het: “I can get no satisfaction.” Hulle is reg, ten minste wat die grootste deel van die wêreld se bevolking betref. Vreugde en tevredenheid het ’n kort rakleeftyd in die meeste mense se lewe. “I try and I try and I try…” sing die Stones verder. Maar die maniere hoe baie mense geluk en vervulling soek, hou nooit te lank nie. Dit het geen “longevity” nie, soos wat die Engelse sou sê. Mense stomp gou af. Niks of niemand hou hulle aandag vir te lank nie. As hulle nie binne sekondes geboei word deur een fliek of storie op Netflix of ander platforms nie, beweeg hulle aan. Hollywood en kie moet deesdae enigiets vanaf perverse tot absurde verhale opdis om kykers te probeer boei.


As jy besig is om ’n slagoffer te raak van hierdie wêreld waarin onvervuldheid en verveeldheid koning kraai, moet jy dadelik ontsnap. Hoe?

  • Sit dit af! Ek praat van sosiale media. Laat een dag per week ’n vasdag wees in jou huis, wat sosiale media betref. O ja, verbied selfone by jou etenstafel.

  • Gaan loop gereeld vir ’n paar minute in die tuin of in die natuur. Doen dit saam met jou familie. Wees aanwesig in die oomblik. Kyk na elke blom, elke wolk, elke by wat rondvlieg. Fokus jou kinders of kleinkinders se aandag hierop. Sien God se mooi handewerk weer raak. Waardeer dit doelbewus saam met ander.

  • Speel meer. Gaan skop ’n bal. Of gaan loop met jou hond. Speel ’n bordspeletjie saam met jou kinders, ouers of vriende.

  • Bid meer spontaan en praat meer spontaan oor die Here met jou familie en vriende. Dan sal jy ware tevredenheid vind.

תגובות


bottom of page