top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Vergifnis – ‘n aflosstokkie


Wanneer ek iemand anders vergewe, is dit eintlik “’n bewys van God se genade” in my. (Heidelbergse Kategismus – Sondag 51, vraag 126).


Nes ‘n mens dink dat jy alles omtrent vergifnis geleer het, kom daar weer ‘n toetsie (of dalk ‘n groot toets) om te bepaal hoeveel ek hiervan verstaan en kan toepas. Dan help dit om na die beeld te kyk, wat Helmut Thielicke gebruik het: die beeld van ‘n aflosstokkie, wat tydens ‘n afloswedloop aangegee word, aangegee móét word. Wanneer ek vergifnis van God ontvang, kan ek nie hierdie “aflosstokkie” vir myself hou nie – ek moet dit weer aan iemand aangee wat saam met my in die wedloop van die lewe is. Wanneer ek dan teleurgestel of deur ‘n huweliksmaat, familielid, vriend, kollega of vreemdeling seergemaak word, is dit my beurt om die “stokkie” aan te gee. Op hulle beurt kan hulle dit dan weer aan iemand anders aangee.


Wanneer ek iemand vergewe (vryspreek), beteken dit ook nie dat ek goedkeur wat die persoon aan my gedoen het nie, dat dit sommer niks is nie. Dis ‘n onreg wat ek kies om te vergewe, omdat God my vergewe het. Ek vergewe sodat ek nie vir jare, of vir ‘n leeftyd lank, my identiteit vind in die seer wat iemand anders my aangedoen het nie. Dit beteken ook nie dat ek vashou aan die verontwaardiging oor wat die persoon gedoen het nie. Nee, ek vergewe omdat dit ‘n opdrag van Christus self is (Matteus 6:12, 14-15). Ek vergewe sodat ekself vry kan word, vry kan wees.


Die meeste van ons weet dat ons as Christene verplig is om te vergewe en sien dan in ons geestesoog ‘n lieflik herstelde verhouding. Maar nee, die pynlike waarheid is dat laasgenoemde dalk lank mag neem of selfs nie altyd moontlik is nie. MAAR vergifnis maak dit vir my moontlik om te werk aan die herstel van die verhouding, wanneer die tyd daarvoor reg is. Ek kan ook die Here vertrou vir wysheid vertrou, wanneer ek moet kies tussen werk aan die herstel van die verhouding of aan die daarstel van verstandige grense.


Ons vergewe nie maar net uit die verte en laat die ander maar sy gang gaan nie. Luther het gesê dat die Christen in ’n sekere sin “’n Christus vir ander” is. In ons kry die vergifnis voete, hande, oë en ore. Dit is wat ons nodig het: mense wat om Christus ontwil vergewe! – Ds. Hentie Krüger

Comments


bottom of page