top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Vermy geestelike beurtkrag


Jou kop is eksklusief. Daar’s net een weergawe van jou kop op die ganse planeet en dis hierdie einste een wat jy het. Dis sakpas en spesiaal vir jou ontwerp. Geen ander mens op aarde het jou kop nie. Jy het ook niemand anders s’n nie. Daarom kan niemand soos jy wees nie. Ook kan jy nie soos enigiemand anders wees nie. Net soos wat jou vingerafdrukke uniek is, is jou kop ook uniek. Jou brein is die kreatiewe kragbron van jou lewe, wat met komplemente van die Here slegs aan jou gegee is. Daarom moet jy dit ten minste gereeld gebruik. Nog beter, jy moet dit reg en goed gebruik. Anders doen jou kop met jou wat Eskom met ons almal doen. Anders tref geestelike beurtkrag jou kop én die res van jou lewe!


Die Here het jou kop nie ontwerp om staties of passief te wees nie, maar om aanhoudend te leer. Jou kop is gemaak vir voortdurende groei. Jy’s nie die slagoffer van ’n brein, wat in sement gegiet is nie, tensy jy toelaat dat dit met jou gebeur. Jou brein is plasties, rekbaar, groeibaar, aanpasbaar, veranderbaar, leerbaar… Met ander woorde, jou kop is nie vooraf vervaardig en by jou deurstoep afgelewer nie. Jy is nie so gemaak en so gelaat staan nie. Hierdie lewensbelangrike feit plaas jou voor ’n lewenslange uitdaging, naamlik om jou kop aanhoudend in die regte RIGTING te laat groei, naamlik in God se rigting! Jou voltydse verantwoordelikheid is om al jou gedagtes reg te dink en om al jou emosies op gesonde maniere te ervaar, anders word jy ’n gevangene van ’n verstopte kop. Paulus gee padlangs vir jou die antwoord hoe om dit te doen in Kolossense 3:2-4 (NNT Vertaling):


“2) Verskuif julle gedagtes se fokus na die dinge, wat daarbo is. Moenie toelaat dat dit verstrengel raak met die dinge, wat hier op die aarde is nie. 3) Want julle is dood hiervoor. Julle nuwe lewe is veilig weggesteek saam met Christus daar by God. 4) Christus is julle lewe. Alles in julle lewe draai rondom Hom. Wanneer Hy terugkeer, sal julle ook daar by Hom wees. Dan sal almal die heerlikheid sien wat julle ook in Christus het.”

Comments


bottom of page