top of page

Wanneer die pad van onsekerheid lank is


“Can you bear not knowing how God is going to provide for your most urgent needs and still trust that He will?” - John Bloom


Lewis Hamilton vertel na sy oorwinning van die Britse Grand Prix van sy twee jaar lange emosionele stryd. Hamilton het in trane sy pa, Anthony, omhels. “Ek het nog nooit vantevore oor 'n oorwinning gehuil nie,” het hy gesê. Gedurende hierdie 945 dae van nie wen nie, het Hamilton gewonder of hy ooit weer gaan wen: “There have definitely been days since 2021 where I didn’t feel I was good enough or I would get back to where I am today.

 

Ons almal gaan, soos Hamilton, deur tydperke van lang onsekerheid in ons lewe – die onbeantwoorde gebed; die verlore kind, wat nog nie tuis is nie; die gesondheidskrisis; die werk, wat ek sonder ‘n vooruitsig op iets nuuts verloor het; die gebroke verhouding, wat nog nie herstel is nie; die huwelikskrisis; die besigheid, wat finansieel sukkel.


Niemand hou van onsekerheid nie en ons wil graag in beheer van ons omstandighede wees. Wanneer ons in ‘n situasie is, waar ons nie weet hoe lank dit gaan aanhou of hoe dit gaan eindig nie, veroorsaak dit spanning en angstigheid. Dis dan so maklik om moedeloos en emosioneel uitgeput te raak, om aan God se goedheid en voorsienigheid te twyfel.


Sulke tye bied ons egter die grootste geleentheid vir geestelike groei. God wil my daar waar ek is ontmoet, Hy wil hê dat ek Sy goedheid en getrouheid te midde van hierdie uitgerekte onsekere pad, waarop ek my bevind, sal ervaar. Dat ek op Hom sal vertrou; dat my gebede nie verniet is nie; dat my omstandighede, wat nie verander nie en soms onuithoudbaar voel, tog iewers ten goede gaan meewerk. (Hebreërs 13:6)


Wanneer ek aan God se goedheid twyfel, is dit nie omdat God nie goed is nie. Dit is omdat ek nie verstaan nie, nie verstaan dat Hy die verlede, hede en toekoms ken en dat Sy tydsberekening perfek is nie. Sy onsigbare Hand is alreeds aan die werk, al kan ek dit nie sien nie.

 

So getuig ‘n sakevriend, wat 6 jaar voor die Covid-pandemie sy besigheid a.g.v. veranderde regeringsregulasies verloor het. Hy het maande lank alles in die stryd gewerp het om sy besigheid te probeer red, terwyl hy nie geweet het hoe dit gaan eindig nie. In daardie tyd kon hy sy hoop, sy teleurstellings en pyn saam met die Here deurwerk. Hy het vasgehou aan die belofte dat geen mens iets aan hom kan doen sonder dat die Here dit toelaat nie. (Hebreërs 13:5-6) Die besigheid is uiteindelik gelikwideer en hy kon later ‘n ander besigheid opbou. As hy terugkyk, besef hy dat sy vorige besigheid nie Covid-bestand sou wees nie en het hy 6 jaar gehad waarin hy ‘n nuwe sterk besigheid kon vestig.


Die vraag is nie of God my deur hierdie onsekere omstandighede kan dra nie, maar of ek Hom kan bly vertrou. Of Sy liefde en trou nog steeds vir my, ongeag van my omstandighede, ‘n werklikheid is.


 “U, Here, gee U vrede en voorspoed vir dié, wat op U vertrou en volhard in die geloof.” - Jesaja 26:3 DB

Comments


bottom of page