top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Woorde wat genees


Lees Spreuke 12:18

Wanneer ‘n mens elke dag met tieners werk, kan dit soms ‘n uitdaging wees. Ons ken almal tieners se nukke en grille. Ons ken ook hulle humeure en vry sê. Om met ‘n klaskamer vol van tieners te werk, bly daagliks ‘n voorreg, maar ook ‘n geweldige uitdaging. Jy weet hoe dit soms in jou huis gaan, wat nog te sê in ‘n klaskamer vol van daardie ouderdom. ‘n Mens moet mooi dink en mooi praat om nie leerders te beledig of jou humeur te verloor nie.

Hierdie teksvers het my persoonlik al baie aangespreek. Om te praat sonder om te dink, kan soos dolksteke wees. Ons het almal al die seer beleef van ongegronde woorde of woorde, wat jou deurboor. Ons het elkeen al ervaar hoe seer woorde kan maak. ‘n Mens hoor van so baie volwassenes, wat seer met hulle saamdra as gevolg van dolksteekwoorde.

Ons teksvers sê duidelik vir ons dat ons sulke woorde moet vermy. Dit gebeur wanneer jy self seer of kwaad is. Hierdie woorde het mos ‘n manier om sommer net by jou mond uit te val, voor jy dit kan keer.

Die teendeel is egter dat woorde ook genesing kan bring. Wanneer jy in liefde praat, of wanneer jy opbouend jou kind of mense komplimenteer, bring woorde genesing. Ons is soms so krities op ons kinders. Hulle span moet ten alle koste wen, of ons kind moet ‘n sekere tyd hardloop. Jy ken al die stories. Dit is in die tweede kom of verloor wat jy die wysheid moet hê om die regte woorde te sê. Moedig liewers aan as afkraak. Dan praat ek nie eers van kragwoorde nie. Ons moet tog onthou dat ons die volwassenes in die verhouding is. Ons stel die voorbeeld. Jou kinders gaan maak soos jy vir hulle gewys het.

Hoe praat julle by die huis? Hoe praat julle van ander mense? Moet nooit uit die oog verloor dat jou kinders jou voorbeeld volg nie. Dink vandag na oor jou woorde en wat hulle die afgelope week beteken het. Was jou woorde dolksteke of het hul genesing gebring?

Comments


bottom of page